7 maande gelede
Maak soos Moses en die Farao’s
Petro LM Gordon  ~ Foto Verskaf

TOE Moses by die brandende bos staan en God aan hom verskyn, het hy kierie in die hand teëgestribbel, want hy het nie geglo dat hy dit kan doen waarvoor God hom wou gebruik nie.

Hy het homself minderwaardig geag, met God geredeneer en wou weet wat hy die volk moet antwoord as hulle hom nie glo nie. Dis tóé dat God vir Moses vra: “Wat is daar in jou hand?”

Die verhaal van Moses by die braambos laat my altyd besef dat ek nie moet kla of wonder watter uitweg daar sal wees as my omstandighede verander nie.

Dit laat my altyd daarvan bewus word dat God in elkeen van ons iets geplaas het.

Ons leef in hierdie ongekende tyd waar jy vandag weet wat jy het en môre kan alles verander.

Iemand het vandag ’n goeie werk en verdien ’n inkomste, en volgende maand is ’n mens jou werk kwyt.

Blind

Dít het ons veral in die lockdown gesien en gehoor gebeur. Dis tragies om te sê, maar baie mense het in sak en as gaan sit.

Hulle weet nie watter kant toe nie, want hulle staar hulle blind teen die feit dat hul werkplek toe is, dat daar re­trenchments was of wat ook al. Van daai mense steun nou net op toelaes van die staat.

Ander kla en vra oral waar hulle kom, sonder om iets aan hul omstandighede te doen.

Vir so iemand sal ek graag wil vra: “Wat is in jóú hand? Wat kan jy goed doen? Die talent wat God jou gegee het, wat maak jy daarmee?”

Nie almal is dalk kunstig of kan handwerk doen nie.

Maar jy kan dalk lekker kos maak of koek bak. Jy kan hare sny of dit lê jou na aan die hart om na bejaardes of kinders te kyk.

’n Raad van trustees het my so twee maande gelede gevra om ’n maandelikse nuusbrief saam te stel vir inwoners by ’n kompleks hier in die Paarl.

Inspirasie

Ek is diep dankbaar, want dis my passie om stories te skryf en nou gebruik ek dit wat ek van God ontvang het om ’n inkomste te verdien.

Met dié dat ek met mense onderhoude moet voer, het ek Charles en Jolene Farao en hul kinders ontmoet.

Dié gesin is vir my ’n groot my inspirasie.

Jolene het onder meer 18 jaar in retail gewerk. Sy het oor die jare gevorder tot bestuurder by die bakkery van ’n bekende kettingwinkel.

Verlede jaar is sy ook ge­retrench. Sy het nie gaan stilsit nie. Sy het besluit om haar eie tuisnywerheid, Treats­ by Jolene, te begin. Sy het besluit om dít te gebruik wat in haar hand is.

Jolene sê: “Ek is baie ge­seënd. Ek kan die hand van die Here sien in my besigheid. Dit gaan regtig goed.”

As jy in ’n situasie is waar jy nou werkloos is of binnekort aftree, onthou waarmee die Here jou geseën het en doen iets daarmee. Wat is in jou hand?

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters