6 dae gelede
Joker speel sy beloftekaart
Jan Swarts  ~ 

TYDENS kieser­registrasie-naweek het Nuuskierig Die Uwe mos gaan loer wat in my wyk se politieke pot kook.

My oë wou uit hul kaste spring toe dit sien in watter dik sous die lensies prut!

Elke politieke Jakob het sy tafel aanloklik gedek.

Food for the hood, het ek gedink.

Dit het gekwetter en gefladder soos vinke wat nes bou en daar was ’n gemaal soos Israeliete wat kwartels eet.

Van agter tafels en maskers het partyverteenwoordigers die politieke landskap beskou – gewillig om lensiesop te skep vir diegene wat hul stem wou ruil.

Op ’n tafel was ’n stapel strooibiljette waarop drome in treffende slagspreuke verpak is.

Verbeelding

Dis tóé dat ek besef het die seisoen van stemme oes het in alle erns begin. Soos skape wat geoffer moes word, is mense na die registrasielokaal gekarwei.

My verbeelding het nie op loop gegaan nie, want ek kon sweer dat ek gesien én gehoor het hoe politici die vel verkoop lank voordat ’n bosbeer geskiet is.

En Moerig Die Uwe het met bebrilde oë gegluur hoe ’n leë beloftepot sonder ’n pond vleis prut. Kleinpiet Promises was soos die Joker-karakter en het heeldag die beloftekaart gespeel.

Hy het sy party se wykskandidaat, ene Superman, se afgetakelde beeld blinker as ’n spieël gepoets.

Baie mense het maklik elke stukkie politieke spek gesluk, maar ekke het wantrouerig gekou en byna verstik aan die vetterigste beloftes van werkskepping en indiensnemingsgeleenthede, jeugontwikkeling en ’n treat van pap en vleis.

Kry Thysie en sy blou-oog-meisie dalk ná die verkiesing hul eie huisie by die see?

En vir musiek by dié liegfees het die boombox gqom en amapiano geblêr.

Ek wonder of die prediker tydens ’n begrafnisdiens ’n entjie ver in ’n kerk bo die lawaai van die slagting nie dalk moes skreeu om bedroefdes se trane met trooswoorde af te vee nie.

Sal die partye se kring ná die verkiesing ook so vol wees?

Wanneer die stemme getel is, sal die verloorder blad skud met die wenner?

Beterweters

Gaan die verloorder nie dalk soos ’n vermaarde cowboy­ voor sy perd staan en tjank terwyl hulle verwyte rondslinger nie?

Die beterweters sê dis ’n mens se eie politieke honde wat jou die seerste byt, want hul byt is erger as hul blaf.

Dis mos in die stemhokkie waar die kruisies getrek word – nie op Fakebook, waar Fakeboekers jou T-shirt se kleur like, almal jou bemin en baie vir jou omgee nie...

’n Duisend followers is nie gelyk aan ’n duisend mense wat kruisies agter jou naam trek nie.

“Everyone loves the honest­ person until the honest­ person strikes a chord with a truth they were not ready to receive.”

Asse-please-tog, moet my nie nou curse nie. Bedank my liewer later…

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters