6 maande gelede
Hoeveel het Tazne nie gely nie
Jan Swarts  ~ Foto Verskaf

WANNEER die uitbundige lag van ’n kind wreed uitgedoof word, is dit ’n waarskuwing dat kinders op die gapende afgrond van uitwissing leef.

Elke keer wanneer ’n kind die “veiligheid” van die huis verlaat om na ’n huiswinkel te stap, grynslag die wrede noodlot. Dis ’n koue werklikheid waarmee ons moet deal.

En die mans wat as be­skerm­engel moet optree, is dikwels die doodsengel. Wat dryf ’n man, ’n pa, ’n broer om sommer net te begin verkrag en moor?

Issit sommer vir die genot, want hoe kón hy haar net doodmaak en haar tenger liggaam in ’n stormwaterpyp versteek om weg te spoel asof sy nooit bestaan het nie? Watter tipe man doen dit!?

Ween, my geliefde land se vroue, ween, want julle is op julle eie. Solank goeie mans niks doen omtrent dié vergrype nie, sal ons aanhou om weggesmyte kinderlyke op te tel. Die bloed van ons kinders sal aanhou roep terwyl die monsters ongestoord hul “regte” geniet.

Die moordenaar se regshulp-prokureur sal sweerlik claim dat sy kliënt gedwing is om ’n bekentenisverklaring af te lê omdat die cops hom gekarnuffel het.

Tazne van Wyk sal nie in die hof kan opstaan en vertel wat die vark aan haar gedoen het nie.

Aan wie se kant is die reg? Dié van die skaam, vriendelike en saggeaarde agjarige slagoffer of die wrede vuilgoed wat haar oupa kon gewees het?

Hoe vreesbevange was sy en hoe pynlik wreed was haar einde? Dié meisiekind wie se glimlag ’n vertrek opgehelder het. Hoeveel trane van angs en vrees het nie oor haar wange gevloei nie?

Herinner

Elke keer wanneer sulke wreedheid koerantvoorblaaie haal en beelde van hartseer op die TV-skerm flits, word die vrae meer en die antwoorde minder.

Die leë bank in die klas­kamer sal haar maatjies altyd herinner aan die engel met wie hulle eens ’n bond gehad het.

Dalk was dit juis daai engelpersoonlikheid wat Tazne van Wyk uitgestraal het wat die self­erkende moordenaar Moyh­dian Pangarker na haar aangetrek het.

Die hoë getal kinderlyke wat in ons land opgetel word, grens aan volksmoord – die gruwelikste menseregtemiskenning. Ons kan nie meer voorbly om die name, plekke en ouderdomme van die slagoffers te onthou nie ...

Net wanneer jy dink die laaste geval was die wreedste kinder- of vrouemoord, word die volgende een gepleeg – en dis onmensliker en grusamer.

En die vroue bid en huil, want die hoop om nóg ’n dag op die rand van uitwissing te oorleef, verdof met elke verlore sekonde.

Om ’n meisiekind in dié land van ons groot te maak en te hoop sy bereik volwassenheid, bly ’n ewige gebedsaak. Die vark in vroue en kinders se hartseer is gewoonlik bekendes en naastes wat maklike teikens kies.

“Dear Mr. President”-inskrywings op Facebook gaan nie die onsinnige en ontydige uitwissing van kinders en vroue stop nie.

Uitgelewer

Hierdie wrede siklus sal aanhou, want solank goeie mans handjies gevou sit, skuil die wreedaards cosy tussen ons.

Ordinary citizens is lankal uitgelewer aan die genade van die monsters in die gemeenskap.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters