27 dae gelede
Herrie oor harriets niks nuuts
Jason Lloyd  ~ Foto Verskaf

DIE herrie oor die TRESemmé-advertensie wat op Clicks se webwerf was met foto’s van “swart” en “wit” hare, het my laat dink aan ander haar-voorvalle die laaste jare.

In dié advertensie word die “swart” hare as “dry and damaged” en “frizzy and dull” beskryf, en die “wit” hare as “fine and flat” en “normal”.

In 2016 was daar 'n rassevoorval oor swart meisies se hare by San Souci Girls High in Kaapstad. Volgens die skoolreëls is dié meisies se hare as slordig en onbetaamlik beskryf.

Laas jaar was daar ook so 'n voorval by Malibu High in Kaapstad waar swart meisies se hare “outrageous” genoem is, dat dit soos bome lyk en dat “net ape en leeus met afro’s gebore word”.

Nege meisies is oor hul hare geskors. Ná betogings moes die Wes-Kaapse departement van onderwys ingryp.

In 2012 was daar 'n bohaai oor 'n (wit) haarkapper van Melkbosstrand wat geweier het om swart mense se hare te sny. Rapport het oor dié storie berig nadat dit bekend geword het ene Tanya Louw, eienaar van The Barber Shop, wys talle swartes weg.

Vir dié ongewilde stap het Louw die volgende redes aangevoer: “Ek is (ook) net opgelei om wit mense se hare te doen.”

Terwyl Louw ten minste eerlik was oor haar (onregverdige) optrede, kon die werkgewer van een van die swart kliënte wat deur Louw weggewys is, Susan van Aswegen, nie haar ore glo nie toe Victor Katekwa haar van die voorval vertel.

Van Aswegen het seker kennis geneem dat verskillende haartipes ’n sensitiewe sakie is, veral in bruin en swart gemeenskappe.

Dit herinner aan die apartheidsregering se potloodtoets om jou ras te bepaal.

Dis dié letsels wat voortleef – dat mense aan hul hare­ geken word.

Al het die gladdebek-karakters Joe Barber (Oscar Peterson) en Boeta Gamat (David Isaacs) destyds in Joe Barber and Boeta Gamat 2 geniepsig herkou aan dié gevoelige saak, bring hul soms satiriese kommentaar geen genesing nie.

Hoe dan anders vind jy vandag nog mense met soolkouse en roulers om kroeshare “glad” te probeer kry?

Ek vertolk dit as 'n strewe na gladde “Westerse” hare as die norm. Dit illustreer ons beheptheid met hare.

Dink aan die nuuskierigheid destyds toe dr. Allan Boesak en sy vrou, Elna, se eerste dogter, Sarah-Len, gebore is. So duur die nuuskierigheid voort oor babas van gemengde ouerpare.

In 2004 skryf prof. Jonathan Jansen, oud-Kovsies-rektor, oor sy gesukkel om sy “etniese” hare in Pretoria gesny te kry: “Die probleem met hare is dat dit nie slegs die toetssteen vir wit oppergesag geword het nie, maar ook die stempel van swart patologie. Ondanks ál die bravade aangaande swart trots en swart onafhanklikheid, skuil daar diep binne-in ’n aaklige monster wat sosiale aanvaarbaarheid gelykgestel aan gladde hare.”

Daarvan was die gebeure in 2005 met Jody Kollapen, destydse voorsitter van die Menseregtekommissie, ’n voorbeeld. 'n Manshaarkapper iewers in Pretoria het erken dat hy op grond van hare gediskrimineer het teen Kollapen deur te weier om sy hare te sny omdat hy nie wit is nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters