Verlede maand
Gun almal die reg op ’n opinie
Christo Meyer  ~ Foto Verskaf

ELKE mens het die reg om te glo wat hy wil.

Dit was nog altyd so.

Ons almal is immers met ’n gesonde verstand gebore. Die een hoef egter nie altyd saam te stem met dit wat die ander glo nie en dis seker normaal.

Dink net hoe vervelig sou die lewe wees as die hele mensdom dieselfde goed geglo het.

’n Vrou van byna 60 sê nou die dag sy glo steeds sy gaan haar beloofde huis van die staat kry voordat sy die dag doodgaan.

Die antie is blykbaar al byna 30 jaar op ’n waglys.

Sy bly egter glo, want in haar eie woorde: “Soos ek glo, so sal dit wees.”

Jy hoef net na die comments in sosiale media te kyk om te sien hoe mense woorde wissel oor die goed waarin hulle glo, selfs oor koerantberigte.

Joernaliste word gereeld van vals beriggewing beskuldig wanneer ’n sekere groep nie saamstem met die inhoud van ’n nuusberig nie.

Mense kom grof deur en die arme koerantmense word nie beledigings gespaar nie.

Dis maar net hoe die lewe werk: Elke mens het die reg om te glo wat hy wil.

’n Ruk gelede maak iemand die volgende opmerking: “Ek het nooit in wonderwerke geglo nie, maar ek weet nou die dae van wonderwerke is nog lank nie verby nie.

“Kyk net na ou Schabir en jy sal weet wat ek bedoel.

“Daai ou was op die randjie van die dood, maar nou word hy as die gesondste gholfspeler op aarde beskou.

“Dis mos wat mens ’n wonderwerk noem.”

Ek het net my kop geskud en my opinie vir myself gehou.

Soms is stilbly ook ’n antwoord. Toe ek niks sê nie, het hy die gesprek net daar gestop en oor iets anders begin praat.

Die term mediese parool is nie eens genoem nie, want hy het sy punt gemaak en gesê waarin hy glo.

Sal iemand so gaaf wees en my laat weet wat van daai ouens geword het wat in die laat 1990’s geglo het die wêreld gaan op 31 Desember 1999 vergaan?

Ek wil nie met hulle argumenteer nie, ek wil net weet of alles nog orrait is by die huis.

Ek kan my net indink watse­ moerse skok dit moes wees toe hulle op 1 Januarie 2000 ontdek alles is presies soos ’n dag tevore.

Ek het betroubaar verneem dat daar steeds mense is wat glo daar was wel ’n inbreker die aand toe ’n bekende model deur haar boyfriend om die lewe gebring is.

Die mense is blykbaar so omgekrap omdat die polisie nooit die inbreker gevang het nie, want blykbaar is hy direk vir die tragedie verantwoordelik.

Wat dink ek hiervan?

Nee, jinne, ek gaan nie reageer nie, anders kan ek my maar gereed maak vir klomp vieslike comments sodra dié skrywe op Facebook losgelaat word.

In vandag se tye glo ek jy moet liewer vriende as vyande maak.

Maar ek sê weer: Elke mens het die reg om te glo wat hy wil ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters