5 maande gelede
Gaan swaai plakkate vir Jesus
William Fransman jr.  ~ Foto Verskaf

JESUS Christus, die man wat homself nog tot onlangs die enigste Seun van God genoem het, is vanmiddag op Golgota, ’n heuwel net buitekant Jerusalem, as oproermaker gekruisig.

Saam met hom was ook ’n moordenaar en ’n dief. Die 33-jarige Jesus het die vorige drie jaar lang afstande van dorp tot dorp per voet afgelê en dikwels lang, opruiende toesprake gelewer.

Die Joodse Sanhedrin, ’n Godsdienstige groepering in Palestina, sowel as die Romeinse regering, by wyse van hul prokurator, Pontius Pilatus, het met groot kommer van dié swerwende prediker kennis geneem.

Hul verbasing was nóg groter toe verkenners kom verklaar dat Jesus beplan om die tempel in Jerusalem eiehandig af te breek ... En dit binne drie dae weer op te bou!

Diegene met kennis vertel dat dit die volk van God bykans 70 jaar gevat het om hierdie gesogte tempel te bou!

Wat nog meer kommer gewek het, was dat groot skares na die Nasarener (hy was ook bekend as Jesus van Nasaret) kom luister het. Hy het ook 12 gereelde mee­lopers gehad. Hy het hulle sy dissipels genoem.

Die Joodse volk was vir eeue deur die Romeine aan ander volke onderdruk.

En vir jare hunker hulle na ’n verlosser, ’n redder wat namens hulle die juk van Romeinse besetting kon afruk.

Vir die meeste Jode was dit duidelik dat hierdie tengerige timmermanseun van Nasaret beslis nie hul beloofde Messias kon wees nie.

Die aand voordat hy in die Tuin van Get­sémané deur Romeinse soldate gevange geneem is, het hy ’n laaste feesmaaltyd met sy 12 uitgesoekte vriende gehad.

Dáár het hy opnuut aan hulle opdragte gegee wat ná sy dood uitgevoer moes word.

Toe die gekruisigde Jesus sy laaste asem presies 15:00 vanmiddag, uitblaas, het die hele wêreld in totale duisternis verval.

’n Romeinse soldaat het openlik én hard genoeg vir almal om te hoor, erken: “Waarlik, hierdie man wás die Seun van God!”

Verbeel jou dít was Son se voorbladberig ’n volle 1 987 jaar gelede.

Dink maar net hoe moerig onse Son-lesers oor so ’n regterlike moord sou gewees het.

Dié man – een wat net goeie dade vir ander wou doen – soos die liederlikste misdadiger aan ’n kruis vas­gespyker.

En gelos vir almal wat verbyloop om mee te spot.

En die mense van sy tyd? Hoe moerig moes daai geneesde melaatses nie gewees het nie

Of die familie van die dogtertjie wat hy uit die dood opgewek het.

Om nie eens van die moerigheid van ou Lasarus en sy susters te praat nie.

Daai mense moes moerig gewees het, my vriend! Moerig!

Eintlik moet die hele Christelike wêreld vandag moerig op straathoeke plakkate gaan rondswaai en voor die kantore van die Joodse Sanhedrin gaan betoog, want hulle is nóú nog moerig, Pappa! Moerig!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters