15 dae gelede
Fikse Bokke sal dié All Blacks roer
ian foster,all blacks
Ian Foster, assistent-afrigter van die All Blacks. Getty Images  ~ 

VOOR die Covid-19-pandemie ons almal se leefwyse en genot van sport so deurmekaar kom gooi het, was ek braaf genoeg om die voorspelling aan so paar kollegas in rugby te maak dat die All Blacks vanjaar sou sukkel.

En selfs in ’n virus belemmerde jaar lyk dit ek was tog reg oor hoe die eens magtige Nieu-Seelanders sou vaar.

Ek het toe voorspel die Kiwi’s sou sukkel om die Rugby Championship-titel wat hy verlede jaar aan die Springbokke afgestaan het, terug te wen. Nederlae teen die Wallabies sal ook nie vergesog wees. Soos in die Aussies se onstuimige verlede onder die raasbek en emosionele afrigter Michael Cheika nie.

Kyk, ek hou van die manier waarop Nieu-Seelandse spanne rugby speel. Daar is selde ’n boring oomblik wat deur hul Superrugbyspanne en hul nasionale trots opgelewer word nie.

En Sondag se eerste Bledisloe Cup-wedstryd teen die Wallabies kan ook as volle waarde vir genot uitgesonder word.

Om twee spanne te sien vir nege minute ná gewone speeltyd nog hul alles gee om te wen, was iets asemrowend. Ek het skoon vergeet ek moes 04:30 opstaan om dít te kyk.

In die opbou tot Sondag se rillende gelykop uitslag, moes ek myself ’n paar maal keer om nie te hard te lag vir sommige voorspellings oor hoe ver die All Blacks sou wen nie.

Tellings van All Blacks met meer as 10 tot 20 punte was met groot bravado op sosiale media gedeel – hoe verkeerd was dié wyse manne en vroue toe nie.

Daarom kan die Kiwi’s maar hul sterre dank hierdie is nie ’n gewone rugbyseisoen nie, want daar sou ’n hele paar ontnugterende oomblikke vir hulle aangebreek het.

My (drie) redes hiervoor:

1. Ek glo steeds nie die aanstelling van Ian Foster was die korrekte besluit as opvolger vir Steve Hansen nie. Vir my lyk hy net te senuweeagtig en nog baie besluiteloos as dit kom by ’n nuwe game plan vir die All Blacks implementeer. Dit het maar soos dieselfde voorspelbare plan soos laas jaar gelyk en die Wallabies het met goeie druk op die verdediging die All Blacks soms planloos laat lyk. 

2. Foster weet nog nie wie is sy eerste keuse op losskakel nie. Richie Mo’unga mag dalk die nr.10-trui gedra het, maar niemand wil tog hoor jy dra die trui, want jy is een van twee losskakels op die veld nie.

En Mo’unga se spel het duidelik daaronder gely, net soos by verlede jaar se Wêreldbekertoernooi - toe Engeland die All Blacks dronk gehardloop het in ’n eensydige halfeindstryd.

3. Daar is ook ’n hele paar spelers in die All Blacks-span wat deesdae met ’n groter as die spel houding rondstap. En beskuldigde nomeer een in die geval is Rieko Ioane. Foster kan hom maar loof, maar die buitesenter (wat eers vleuel gespeel het) speel nog steeds sy rugby soos ’n skouperd en is nie bereid om die harde en vuil werk van spelers in sy nuwe posisie te doen nie.

Jammerlik gaan ons nou nie die jaar sien hoe die Springbokke en All Blacks mekaar takel nie. Dit is nou as SA Rugby nie kom met ’n curve ball en wel die Wêreldkampioene Australië toe stuur om aan die Rugby Championship deel te neem nie.

Ek het so baie uitgesien na die All Blacks en Bokke se ontmoeting op die Kiwi’s se rugbyheiligdom, Eden Park (Auckland).

Die All Blacks het baie lanklaas hier verloor, maar eerskomende Sondag kry die Wallabies die kans om die Kiwi’s se trotse rekord hier ’n swart kolletjie te gee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters