3 maande gelede
Dít steek my dwars in die krop
André Smith  ~ Foto Verskaf

MET die gammon, tong en 2lCream Soda Jive-koeldrank vir Krismis alles op en die nuwe jaar wat maar droog en swaar begin het, wil ek jou nogtans groet met ’n ordentlike “compliments of the season”.

Ek sou graag nog meer mooi goedjies en dinge wou byvoeg, maar los maar vir eers, want...

Die ekke is sommer met die wegtrek van die nuwe jaar regtig moerag.

Soos in jou oorlede Tolla van der Merwe se “soen ’n Kaapse kobra oopbek”-moerig. Ek wens dit kon anders wees, maar dit is nou wat dit is.

Kyk, ek is oor die algemeen ’n vrolike, positiewe en liefdevolle mens,maar dié graad van woede het ek lank laas so vroeg aan die begin van ’n nuwe jaar ervaar.

Hittegolf

Vir wat nou nie aan ’n ander deur loop klop nie?

Nee, dit moes juis myne wees.

Asof die pandemie en hittegolf nie genoeg is nie, moes HULLE ook nog die paartie join.

Soos ek óp is van al die korrupsie, magsvergrype en noem maar op in ons mooi land, so is ek net mooi op van hulle.

Die goed het geen respek vir ’n mens se privaatheid nie. Soos met die pandemiebedrog kom beroof hulle my mos ook van dit wat myne is.

Wie gee hulle die reg om dit aan my of enige ander vredeliewende mens te doen? En dan nog te skaterlag as ek my vir die soveelste keer bloedig vererg en ’n kragwoord of ses laat val. Geen respek vir my menswees en ouderdom nie!

Julle moet dit goed glo as ek vir julle sê dat julle my nie gaan onderkry nie.

Julle hoofmanne en voorbokke kan maar daai klomp nat-agter-die-ore-bogsnuiters stuur om jul vuilwerk te kom doen.

Daai is mos nou “lately” jul strategie. Die ekke hettie dom gekom nie.

My meubels en ander kosbare besittings sal jy nie weer beroof nie.

Julle sal nie weer die voorreg kry om my bloeddruk soos die laaste keer te laat styg nie.

Die skade wat julle my aangedoen het, gaan spoedig tot ’n einde kom – read my lips and mark my words!

Vrede

Daar kan seker net een plek wees waar julle op­leiding ontvang het vir jul vieslike, skaamtelose plundery – die politiek van ons dag!

Ek soek my vrede terug wat julle van my beroof het. Julle gaan nogals nie die voorreg hê om my 2021 op te foeter nie.

Die ding gaan ruk, ek sê, en julle gaan laaste kom.

Ek het ook my brasse, soos julle. Ons staan bankvas agter mekaar.

Soos jy gewapen is, so is ons ook.

As julle skaamteloos kan wees, wel ek nog meer.

Ek kan nie meer wag vir ons volgende “support group”-sessie nie, waar ek met ’n breë glimlag nog ’n keer my groep maats sal groet met hierdie woorde: “Hallo, almal.

“Ek is André Smith en ek is ’n moordenaar – ’n muskiet-moordenaar!”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters