9 dae gelede
Dis als net ’n better lie for all
Salmon Smith  ~ Foto Verskaf

TOE die uwe nog so ’n klein, vaalkniekop-, snotneus-klonkie was, was hy mal oor die fantasie-wêreld.

My gunsteling was dwergies en feetjies – wesens wat lewe in ’n wêreld vol vrede en harmonie.

Dis nou totdat ’n lelike trol of heks in hul lewe kom k*k en hul wêreld onderstebo keer. Dan het ek ook die pyn saam met daardie vreedsame wesentjies gevoel.

Vandag is ek groot en met my volwasse verstand besef ek ôs lewe dan steeds in ’n fantasie-wêreld – een waar ons dink alles in Mzansi is maanskyn en rose; dat alles piekfyn is en dat harmonie heers.

En dít terwyl die bose trolle in die gedaante van arrogante politieke leiers anargie en verdeeldheid saai onder ôs Mzansi-naars.

Opstook

Die arme boere – die mense wat help om die sukkelende ekonomie in stand te hou – word een vir een wreed en koelbloedig vermoor.

En dít oor laeklas-leiers in die politiek die gepeupel opstook­ oor sogenaamde grondhervorming en “sondes van die verlede”.

En niemand skree nou “white lives matter!” nie.

En noudat die boere vir hulself wil opstaan, word hulle uitgekryt as barbare.

Dan wonner ek nou wat is die woord vir daardie moegoe-moere wat winkels, busse, treine, universiteite en die hele land afbrand?

Binnekort k*k ôs deur ôs ribbes, want daar ga’ niks meer kos weesie. Dít terwyl die land se rommelstatus-ekonomie op die bodem van ’n k*kdrein lê.

Boonop het die land se nuttelose leiers al keer op keer bewys dat hulle nie in staat is daartoe om ’n sukkelende, down and out ekonomie te red nie.

Maar nee, ôs dans die “Jerusalema” lattie aarde bewe en dink dat dít ôs land sal verenig ...

Maar in die meantime vergeet ons gerieflikheidshalwe van die miljarde rande wat voete gegroei en gelines het uit die staatskoffers.

Nee, mense, ôs moet wakke’ skrik uit ôs fantasie-wêreld!

Ôs word ’n lelike rat voorie oë gedraai.

Daai “better life for all” wassie vi’ ôs nie.

Dit was vir daai groot, vet, drillende arrogante soustreinpassasiers.

Ôs gewone mense innie straat moes daai kruisie mos maar net gemaak het om húlle daai better life te gee.

En f*k die res!

Ôs moet maar krepeer totdat die next “better life for all”-belofte uitloop.

Mense, ons word regeer deur daardie hartelose trolle in hierdie nare fantasiewêreld – gierige trolle wat leef in weelderige paleise waar hulle trommels vol goud en silwer versteek.

So, kiesers, besin next time mooi voordat julle daardie kruisie trek.

Of anders sit ons net al aan in ons fantasie-wêreld vol bose trolle, hekse en drake.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters