Verlede maand
Die Covid-19-oorlog gaan nie met geloof alleen gewen word
DODELIK: Teen druktyd het die getal Covid-19-verwante sterftes in Buffalo City op 160 gestaan.  ~ Netwerk24

AS JY tot nou toe nog nie in die sosiale media ’n “Rus in Vrede”- post gedeel het met ’n foto van ’n familielid of naasbestaande wat aan Covid-19 dood is nie, kan jy jouself as gelukkig beskou.

As jy self ook die virus tot dusver vrygespring het, is jy ook gelukkig.

Maar kan ons net gou stilstaan by kerkmense? Of moet ek sê by die gelowiges wat die noodlot kaalvuis en -mond uittart en heel gemaklik sê: “Die Here sorg vir ons. Ons is onder die Bloed van die Lam.

“Hy sal nie laat die virus oor ons kom nie.”

Verskoon tog, is die bekende pastoor Angus Buchan en ’n groep ander pastore nie in Maart vanjaar positief getoets vir die virus toe hulle die Jerusalem Prayer Breakfast in Bloemfontein bygewoon het nie?

En hoeveel pastore en ander gelowiges is in die Covid-19-stryd dood?

“Die mense wat dood is, was seker nie op hul plek met die Here nie. Want hoekom anders sou die Here toelaat dat hulle Covid-19 kry?” sak die einste “gelowiges” af.

Ek wil met niemand oor geloof stry nie, want ek is nie ’n kenner nie.

Wat ek wel weet, is dat niemand verhewe of bestand is teen Covid-19 nie. Ten minste nie totdat daar ’n entstof versprei word nie.

Dit is hoekom kinders van die Here, imams en ander diknekke in die geloof aan die virus sterf.

Want hulle is mens, vlees en bloed.

Covid-19 het sy kloue in elke ras en klas, jonk en oud, besnydes en onbesnydes, gelowiges en ongelowiges geslaan.

As ek ook nou reg luister na die slim mense wat werk aan ’n entstof, kan jy die risiko om die virus op te doen, verminder deur ’n masker te dra, gereeld hande te was of sanitise en gesonde sosiale distansiëring tussen jou en andere toe te pas.

Verder sê die meeste survivors van die ondraag­like virus dat ’n goeie immuniteitstelsel, gebed en geloof hulle deur die fight teen Covid-19 gehelp het.

So, geloof is belangrik vir healing.

Maar beteken dit nou dat die ander mense wat gesterf het, nie geloof gehad het nie? Nee, ek weier om dit te glo.

Wie is ons as mens om te dink óns weet wat is die regte plek met God?

Respekteer andere wat nog hul trane afvee en rou.

Onthou, Matteus 5:45 lees: “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters