18 dae gelede
Depressie is nie ’n skande nie
Gwen Kordom  ~ Foto Verskaf

DAAR kom dae wanneer 'n mens 'n bietjie af voel en dikwels maak jy dit af as iets kleins of onbelangriks.

Dit kan 'n tydelike terugslag wees of dalk iemand wat jou op die een of ander manier teleurgestel het.

Wanneer dié gevoel egter vir langer aanhou, kan dit heel moontlik iets anders wees. Depressie het in die afgelope jaar vererger en met rede – 2020 was nie maklik met die corona-virus wat bykans alles verwoes het nie.

Die lewe wat ons voorheen geken het, is verby en nuwe aanpassings moes gemaak word. So, dit is net gepas dat meer mense aan depressie ly as voorheen.

Net soos die virus kan dit jou gesinslewe of verhoudings vernietig as dit nie behandel word nie en omdat die meeste mense nog nie depressie as 'n siekte aanvaar het nie, leef baie in stilte daaroor.

Baie mense misbruik dalk selfs dwelms en alkohol om die gevoel van hopeloosheid te verlig.

Maar hoe weet jy wanneer jy aan depressie ly? Of hoe kan jy dit by jou kind of eggenoot diagnoseer?

Ons lees oor depressie en kyk verby sulke artikels omdat jy dink dit is nie 'n belangrike kwessie nie. Dis eers wanneer dit iemand na aan jou raak dat dit jou tref.

Dit is belangrik om na die simptome te kyk, Nie almal wat aan depressie ly, wys die simptome nie, maar daar is wel maniere om dit te identifiseer.

Jy sal belangstelling verloor in die dinge waarvan jy voorheen gehou het.

Jy sal ook aanhoudende gevoelens van hopeloosheid of skuld ervaar oor iets wat gebeur het. Jy vind dit dalk ook moeilik om te konsentreer.

Jy ervaar gevoelens van hartseer en angstigheid, en voel maklik geïrriteerd oor alles.

In erger gevalle kry mense selfs selfmoordgedagtes.

Liggaamlike simptome soos hoofpyne en probleme met jou spysverteringstelsel word ook aan depressie gekoppel. Wanneer jy dalk nie die moed het om 'n dokter te gaan sien nie, is daar selfhelp-metodes op die internet beskikbaar.

Ten spyte van die negatiewe reaksie op depressie is dit reeds jare gelede as 'n siekte geklassifiseer. Dié wat in stilte ly, moet dus weet daar ís hulp.

Stap

Aanlyn groepe en sosiale platforms is van die ondersteuningsnetwerke waar jy 'n gemeenskap kan vind wat jou kan help om hierdie geestestoestand te oorwin.

Die eerste stap is nooit maklik nie, maar dis 'n begin.

Dit vat tyd om beter te voel en soms moet jy jouself aanhelp om uit die donker put te kom.

Dit kos moed om te erken jy het hulp nodig. Jy hoef dit nie noodwendig met jou naastes te deel nie.

Soek hulp en wanneer die tyd reg is, kan jy jou toestand met jou naastes deel.

Daardeur kan jy heel moontlik iemand anders help.

Wat ook al die gevoelens oor depressie, dit is lankal nie meer ? skande om te erken jy ly aan 'n geestesiekte nie. Daar is genesing daar buite.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters