5 maande gelede
Dalk kan ons kids ook soos die klas van 1976 wees en oorwin
 ~ 

JA, JA. Nog ’n middeljarige wit man wat de moer in is. So what?

Skool toe met die kinners. Net die 7’tjies en die 12’ies? Of nie?

Want ná twee weke se warboel tydens die virus-tyd het niemand ’n clue nie.

Nie eens daai Angie nie. Want op die eerste van die maand sê die Minister van Lower Onnerbroek oeps, sy het ’n fout gemaak.

Sy maak toe ouers, kinders, onderwysers, en unies (wat haar wel gewaarsku het) heeltemal deurmekaar.

Nee, die skole gaan eers volgende week oopmaak.

En hier sit ons nou. Die skole is oop.

Of nie oop nie. Want baie skole kan nie oopmaak nie. Nie regtig nie.

Nie eens vir teoreties twee klasse nie. Daar is nie eens werkende toilette in baie skole nie. Ook nie lopende water nie. Want ons weet mos die hele skoolstelsel is al dekades in die toilet ...

Ek is net ’n middeljarige wit man, maar selfs ek verstaan hoe verstommend !@#$%^-up die klasse van 1976 moes gewees het.

Te veel kinders. Niks toilette nie. Die cops wat heeltyd kyk en jou, wel, sal doodskiet.

En ’n volle 26 jaar ná die begin van demokrasie? Wat het ons nou?

Ek het nie ’n clue nie. Ek weet net dis ’n helse gemors.

Beslis nie waarvoor die kinders van 1976 gefight, gebloei en gesterf het nie.

En 2020 is basically regtig gef*k. Daar is nie meer ras, ouderdom of geslag nie. Dis die ding.

Die corona-virus het ons naak gelaat.

Ons kan nie meer agter ons huise, ons hokke, en ja, ons pondokke gaan skuil nie. Die wit man kan nie meer agter die hoë mure sit nie. Die tannie agter haar mooie doek, nie meer in Athlone nie, en die ontstoke massas in Kayamandi se shacks ook nie.

Dié bitter pil sluk ons almal.

Ongeag. Soos ’n Bybelse plaag.

En wat van ons kinders in die week waarin ons Jeugdag herdenk het?

En noudat die skole weer “oop” is? Dit terwyl die meeste regdenkende mense geregverdigde kommer het?

Miskien kan ons almal in hierdie tyd van die virus iets leer by die klas van 1976.

In daardie tyd het kinders opgestaan teen ’n stelsel wat op baie maniere soos vandag se virus lyk.

’n Oorweldigende mag waarvoor ons nie antwoorde het nie.

Te sterk? Te groot? Sit almal op lockdown.

En kyk net wat het daai kinders reggekry? Hulle het oorwin. En ons sal ook ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters