4 dae gelede
Daar is geen ‘regte’ Afrikaans
Ernest Loth  ~ Foto Verskaf

’N ANONIEME ouer het onlangs ’n brief van een van die “grys” Paarlse skole ontvang waarin die skool vra dat hulle “korrekte Afrikaans” met hul kind tuis moet praat omdat hy nog te veel “djy” en “djou” op skool.

Dis nie net kleinlik nie, dis ook beledigend teenoor die leerder en sy ouers en sommer die oorkoepelende gemeenskap.

Wie maak nog deesdae sulke stellings? Veral wat die Afrikaanse taal betref en hoe dit gepraat moet word?

Word mense steeds gestereotipeer oor hoe die Afrikaanse taal gepraat word?

Indien daar steeds skole of onderwysers of hoofde is wat neersien op hoe sommige leerders Afrikaans gebruik, behoort hulle uit die onderwys verban te word.

In dié land is alle variante van Afrikaans aanvaarbaar.

Wie sê die wyse waarop sommige mense Afrikaans praat, is die alfa en omega?

Ontwikkel

Afrikaans is ’n gemaklike taal wat deur verskeie tale ryker gemaak is en juis ons diversiteit daardeur weerspieël.

Só het Afrikaans ontwikkel deur die gebruik van leenwoorde uit inheemse Suid-Afrikaanse en ander tale, self Italiaans, Japans, Grieks en Frans.

Afrikaaps is lankal ook aanvaarbaar, selfs binne die konteks van die literatuur.

Adam Small se drama Krismis van Map Jacobs is vir matrikulante voorgeskryf. Wat meer is, Small het in 2012 die Hertzogprys ontvang vir onder meer sy Kanna Hy Kô Hystoe, wat deurgaans in Kaaps geskryf is.

Selfs die digkuns vir gr. 10 sluit Peter Snyders se gedig “Ek is Oek Important” in, asook Small se “Proud Ou Gabou”.

So, waar kom die antagonistiese houding teenoor leerders wat nie “korrekte Afrikaans” praat nie dan nou skielik vandaan?

Dis mos blatante diskriminasie wat hier plaasvind en wat onmiddellik hokgeslaan moet word.

Hoekom moet bruin leerders nog steeds “korrekte Afrikaans” praat om aanvaar te word by die sogenaamde model C-skole? Hoekom moet die kinders dan hul “identiteit” prysgee om ander se identiteit te behou en as’t ware te respekteer?

Dis ook teleurstellend hoe sommige leerders hul aksent verander en soos wit leerders probeer praat; so asof hulle skaam behoort te wees oor hoe hulle, hul familie en vriende daagliks Afrikaans praat.

Selfs in 7de Laan probeer die nie-wit akteurs soos hul wit kollegas praat. Dit laat hulle kunsmatig en belaglik klink. Is die taalpuriste nie daarvan bewus dat daar iets soos klank- of uitspraakverskynsels bestaan wat ’n groot invloed het op hoe mense normaalweg praat nie?

Stroop

Soos ’n klem of aksent, palatalisasie, vokaalreduksie, ontronding, oorronding en assimilasie.

Daar is in elk geval ’n groot verskil tussen skryftaal en praattaal. Dis deesdae aanvaarbaar dat sommige digters of skrywers skryf soos mense normaalweg praat en Afrikaans stroop van sy plastiekbaadjie en strikdas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters