6 maande gelede
Corona-pandemie is geensins ’n djouk, liewe Sonlanders
Keith Meyer  ~ Foto Verskaf

EK VOEL al weer vandag tot kotsens toe vol. Ek lus om op sekere mense se kop te k*k.

Dis die wetters wat maak asof die pandemie van die corona-virus ’n moerse djouk is.

Dat dit faain is om maar net gat te maak van hierdie nagmerrie op social media. Ek is tot lewens toe moeg vir daai bliksems.

Soos dat, aangesien die virus in Wuhan begin het, seuns se naam nou Wuhannes gaan wees.

Jou dag gaan kom. Ek verwens niemand nie. Wag maar totdat die virus iemand na aan jóú tref. Want sien, nou is dit mos net ’n remote siekte.

Dat dit na bewering net ’n “rykmansiekte” is.

Of dat die siekte net versprei kan word deur ryk mense wat rondvlieg.

Hoe de moer kan djy dikbek is oor drank se verkoops­ure? Sies, man!

Djy wat nog wil strike. Strike djy maar alleen, ek het my lewe te lief. Ongevoelige djy!

Wag totdat jou ma, jou suster of jou niggie, wat ’n verpleegster is, daardie persone wat met die virus geïnfekteer is, moet behandel. Wag totdat djy gaan wonder of hulle hul hande genoeg gewas het as hulle saans, doodmoeg, van die werk kom.

Djy wat die government so kritiseer. Djy wat dink dat die virus nie werksverliese kan veroorsaak nie.

Wag totdat ’n geliefde die nuus moet breek of kry. Wag totdat ’n geliefde na aan jou die virus opdoen. Dan gaan djy jou tune veranner, nuh? Wetter!

Ek is bef*k soos my vingers die letters op my keyboard hard moer. Ek haal sommer my weersin uit op my key­board.

En daai mense wat so kos opgaar ... selfsugtige bliksems! Koop djy maar ál die borrels hand saniter!

Was djy dan maar alleen djou hanne totdat daar nie saniters oor is vir ander om hulle hanne te was nie. Dan is djy, nes ons, binne-in jou glory.

(Ai, vergewe my tog my taalgebruik, maar buitengewone omstandighede vereis buitengewone taalgebruik!)

Ligter momente is uitgesluit, want dit sal nie help om in sak en as te gaan sit nie.

Doen maar net jou deel.

Voorkoming is beter as genesing.

Beskerm jouself en diegene na aan jou siel.

Dis donker tye waarin die heelal h0m bevind.

Saam sal daar gewerk word aan ’n cure vir die virus.

Ons is biddend. “These things come to pass,” bid my priest in ons meeting van minder as 100 mense.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters