2 maande gelede
Wie betaal die prys vir hierdie haastigheid?
Foto:  ~ 

MÔRE sou my kind se kleuterskool heropen het. Sy is in gr. R. Die laaste paar maande het die skool Zoom-klasse vir drie-, vier- en vyfjariges.

Dit was ’n reuse-aanpassing, maar ek kan sien die kinders is nou in ’n roetine.

Ek kon ook sien hoe opgewonde hulle was toe hulle hoor die skool heropen.

Toe gebeur die ouervergadering. Dit was die tweede een van die jaar via Zoom.

Ek het myself die hele tyd daaraan herinner om my in te hou en net my vrae te vra.

Ek het ’n A4-blad vol vrae en opvolgvrae gehad. Ek was gracious en het teruggestaan toe hulle my mening vra en gesê ek sal wag totdat die ander mense hul vrae geopper het.

Kyk, ek is ’n nuwe ouer by die skool, so ek kyk nog die kat uit die boom.

Ek was daar as ma, maar ek kan mos nie my joernalistieke hoed wegbêre en pretend ek weet nie wat ek weet nie, of hoe?

In my agterkop weet ek hoe desperaat graag my kind saam met haar maatjies buite wil speel, maar ek weet ook hoe die slagveld lyk en hoe onseker selfs gesoute medici is oor Covid-19.

Landwyd het ouers en onderwysers op straat geprotesteer oor die heropening van skole.

Ons ken van die onderwysers wat reeds gesterf het weens Covid-19.

Angstigheid

Onnies en leerders vertel my hoe hulle stres elke keer dat hulle die skoolterrein betree.

Ek het familie wat positief getoets is vir die corona-virus en onder kwarantyn was.

Ek ken daai angstigheid wanneer jou kollegas om jou positief getoets is; as vriende drie dae ná hul ma se dood eers uitvind sy het in die hospitaal afgesterf; hoe ’n ander inderhaas veras word, want daar is nie plek om die lyk te berg nie.

Nou, met al die stories van vrees en lyding, al die onderhoude met die voorste medici en wetenskaplikes in Mzansi, hoe kan ek in good conscience my kind in die winter skool toe stuur terwyl Gauteng ’n miljoen massagrafte grou?

Drie premiers is tans positief en in afsondering. Die hospitale wys siek mense weg, want hulle het nie plek om hulle te behandel nie.

Die hospitaalwerkers kry mental breakdowns, want hulle kan nie mense se lewe red nie.

Ek weet byvoorbeeld dat nie al die ministers saamstem dat die skole moes heropen nie, maar sommige bly in hul baan.

Ek weet ook sommige het vir hul geliefdes gesê om liewer te wag.

Hulle kan mos afford om by die huis te bly en vir aanlyn klasse en data te betaal. Nie almal in ’n wendyhuis en met piece work het daardie keuse nie.

Ons weet die lewe moet aangaan en die ekonomie moet op dreef kom, maar ten koste van wat en wie?

Die mense is óp van die lockdown, ja, maar as jy nou reeds kla oor ’n masker en jy kan nie asemhaal nie, moet jy sien hoe smeek ’n pasiënt wat aan ’n ventilator gekoppel is om ’n asemteug.

Ek probeer minder tyd in die sosiale media deurbring. Dit vat aan my om elke dag van sterftes te lees.

Een juffrou vertel sy en haar agt gesinslede (kinders inkluis) is almal positief getoets.

Sy deel hoe paranoid sy raak wanneer sy hoes en die bloed sien en oor hoe sy binnekort in ’n klas moet staan terwyl sy vrees sy kan wéér positief toets.

Die juffrou is ook ’n ma. Haar kind het ook ligte simptome gehad.

In tye waar soveel onsekerhede is, hoe dobbel jy met die lewe en hoop net vir die beste?

NS: Die kleuterskool open nou eers in September. Ek het my saak gestel.

LYNETTE FRANCIS-PUREN, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters