5 maande gelede
Werk saam om infeksie-kurwe te help afplat
Lynette Francis.  ~ Verskaf

VRYDAGOGGEND ry ek vroeërig in werk toe vir Praat Saam.

As joernalis word ek geklassifiseer as ’n noodsaaklike werker en ek moet met talle permitte, ID’s en briewe rondreis ingeval die polisie of weermag my voorkeer.

Ek het “receipts” en bewyse dat ek werk toe gaan.

Dit pla my dat daar nog gans te veel mense op straat rondloop. En daar is te veel karre op die pad.

Ek dink sommige van my medeburgers oortuig hulself China is ver en ons is veilig.

Kwalik! Ons moet wakker skrik. Die lewe het verander – wat nou abnormaal is, sal in alle waarskynlikheid vir baie lank ons nuwe normaal word.

Moenie jouself sus dat alles ná die 21 dae van inperking hunky-dory gaan wees nie.

Met die skrywe van my blog is daar reeds twee sterftes in die Wes-Kaap. Een in ’n openbare hospitaal en een in ’n privaat hospitaal.

Covid-19 is soos ’n sluipmoordenaar wat ons deurentyd moet verwag en waarop ons voorberei moet wees.

Omloop

Voorbereiding? Dit is juis hoekom ons fisiek die sosiale afstand probeer handhaaf; hoekom ons gereeld ons hande was en sanitise – ook die oppervlakke waar ons sit, werk en eet.

Die een groot rede waarom ons 21 dae van inperking het, is sodat ons minder kontak met mekaar het en die kanse van infeksie kan verminder en sodoende die kurwe kan afplat.

Die “flattening of the curve” koop vir ons tyd om met beter planne vorendag te kom; om die lywe wat die virus kan kaap om in te squat deur besmetting, uit die omloop te kry.

Jy kan die virus hê en nie eens weet jy het dit nie. Daarom is dit gebiedend noodsaaklik om kontak met ander te beperk, want jy kan jou geliefdes en vreemdelinge besmet en dit nie eens weet nie.

My hart het amper gaan staan toe ek sien hoe mense na hulle kaias in ander provinsies in die landelike gebiede trek.

As dáár positiewe Covid-19 gevalle is, moet jy almal track wat met hulle in kontak was – en elke ander persoon wat weer met húlle kontak gehad het.

Dit is ’n vicious cycle wat die hele gesondheidstelsel in duie kan laat stort. Om nie eens oor die stand van ons ekonomie te praat nie!

Ons moet ons regmaak vir nog meer afleggings in die werkplek.

Maar terug by die mense wat oor suurstofmaskers, sanitisers en toiletpapier baklei, maar ook kuier as if there is no tomorrow.

Die afgelope week het ek met twee mense gesels wat positief getoets is en in kwarantyn was, en van hulle kontakte wat daarna getoets is.

My kollegas in die Noord-Kaap word getoets vir Covid-19, want hulle was in kontak met ’n ander kollega wat homself onder kwarantyn geplaas het.

Hy is nou baie beter en het Vrydagoggend nog met my geskerts dat sy radio in sy kar aan is. Hy neem die nodige voorsorgmaatreëls.

Ons eie Keith Sayster by Fokus is fine en gaan deur die protokolle wat geld as jy in ’n omgewing was waar daar ’n moontlike pasiënt was.

Moenie jou nuus in die sosiale media kry nie. Lees en luister na die bronne wat jy kan vertrou.

Moet tog ook nie die virus of die kans van infeksie tart nie.

Ek sien mense blameer nog steeds die duiwel, maar volg nie hulle eie common sense nie.

Dit is tyd vir ons om saam te staan en nie ander se lewe in gevaar te stel vir ons eie plesier nie.

Stuur jou virtuele drukkies, hoes in jou elmboog en was Johanna (jou hande) ...

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters