5 maande gelede
Wees nou wys en waaksaam; taai tyd lê voor
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

DIE saak staan so: Hierdie week sal ons weet of daar verdere inperkings gaan kom.

Vergeet eers daarvan dat toegewings gemaak is oor sekere bedrywe, soos die myne en motorvervaardigers, wat stelselmatig weer met produksie kan begin.

Onthou wel dat die getal sterftes slakkerlak styg en die getal positiewe gevalle ook.

Ek het van ’n bekende ’n makabere WhatsApp gekry waarin dié my laat weet ’n sekere maatskappy is gevra om meer body bags te vervaardig.

As die gemiddeld van 90 gevalle per dag meer raak (soos ons plek-plek sien, want daar is meer mense wat getoets word), dan sal daar weer aanpassings kom.

Dalk ook ’n verlenging van die grendeltyd. As ... as ... as. As is verbrande hout, soos die oumense sê.

Maar ons leef in onsekere tye en ons het te doen met ’n ongekende virus.

Aanhalings van kykers spook al dae lank by my. Een vrou wil mense met haar lekekennis oor die virus waarsku om by die huis te bly.

Oënskynlik dink sommige die virus “issie an ôse kantie, dis in anne omtes”, so hulle kan maar rondloop.

Hospitale

Sy som op: “As jy links draai, draai die virus links; as jy regs loop, loop die virus regs.”

Ons moet optree asof ons reeds die virus het, want dit loop saam met ons en ons kan dit nie sien nie.

Wanneer jy dit het en jy val in die kwesbare groep of jou immuunstelsel kan jou nie help om dit te beveg nie, dan is jy op hospitale aangewese.

Maar selfs daar is daar groot bekommernis oor die getal beddens vir intensiewe en hoë sorg en die tekort aan ventilators.

Ons het, soos die geval in Italië, Spanje, Brittanje en Amerika is, ook ’n tekort aan persoonlike beskermende toerusting en ons gesondheidswerkers in die voorste linies word ook besmet en siek. Sommige sterf.

Pastore ook, al preek sommige dat die bloed van Jesus genoeg is om jou te beskerm en jy hoef nie die virus te vrees nie. Ons is nie immuun net omdat ons bid nie. Jy moet ook wys wees.

Hou ook in gedagte dat daar reeds drie hospitale is waar gesondheidspersoneel positief getoets is en waar die hospitaal tydelik moes sluit. So ook sekere kruidenierswinkels. Ons moet die hele tyd waaksaam bly.

As jy luister na die voorleggings van die president se taakspan en meer spesifiek die mediese en wetenskap­likes se insette, word die ergste tye vir Augustus en September voorspel.

Ons is dan ook deur ons winter. Die probleem met die seisoenverandering is dat baie mense nie sal kan onderskei tussen hul griepsimptome en dié van Covid-19 nie.

Ons mense is honger. Een ma vertel sy moet elke dag vir haar matrikulant-kind wat aanlyn klas loop, kies tussen data of brood.

Wanneer ek luister na die aanbevelings van die paneel, vra hulle dat ons sover ons kan voorsorgmaatreëls tref.

Volgens Stats SA het ons in die land ’n bietjie meer as 5 miljoen mense wat ouer as 60 is, en die getal mense 80 jaar of ouer trek so oor die 600 000.

Ons wil hulle nie onnodig blootstel nie. As ’n mens hulle dus kan beveilig wanneer Sassa uitbetaal of hulle kliniek toe moet gaan, hou hulle veilig hoe ook al jy kan.

Probeer ook ’n masker kry of laat hulle ’n serp dra wat hul lugweg toemaak.

Ons kyk na die hospitale se gereedheidsgrondslag en die tekorte. Maar waar gaan ons die lyke berg, en waar gaan ons die mense begrawe?

China se mainland het sedert Vrydag 26 nuwe corona-virus-gevalle aangemeld; Brittanje het pas sy lockdown met drie weke verleng en die deelstaat New York het sy lockdown tot 15 Mei aangepas.

Ons dae is onvoorspelbaar.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus Woensdae 19:00 op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die interessante dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters