7 maande gelede
Vreesbevange en alleen in die stryd teen virus
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

DIT is drie weke voor die troue. Gaste van oorsee stuur stempos om te sê hulle is bitter jammer, maar hulle sal nie ons groot dag kan bywoon nie...

Daar is ’n reisverbod ingestel en hulle moes hulle vlug na en verblyf in Suid-Afrika kanselleer. Hulle is onseker of hulle kan kom, want wat as daar nie vlugte terug na Los Angeles is nie?

’n Vriendin van Ierland laat weet Donderdag laatmiddag skole is nou gesluit en sy wil nie haar werk in gedrang plaas deur nou met verlof te gaan nie.

Sy sal liefs in Ierland bly en haar dogter oppas. Dit is duidelik daar is groot onsekerheid in die wêreld.

Nog ’n vriendin hier in Jozi is die stasie­bestuurder van ’n gemeenskapsradiostasie. Daar is gereeld internasionale gaste wat hulle besoek en daar is ’n paar internasionale nie-regeringsorganisasies in hulle gebou. Kortom: Die mense in hulle gebou reis voortdurend.

Hulle het die afgelope week verskeie vergaderings gehou om hulle noodplanne te bespreek indien Covid-19 by iemand gediagnoseer sou word. Sy val in die “kwesbare” groep en het van tyd tot tyd “respiratory probleme”, soos sy dit noem.

Hoewel sy nie getoets is en geen simptome het nie, het sy haarself onder kwarantyn geplaas. Sy werk die afgelope twee weke van die huis af. Sy doen nie meer koffie-afsprake vir sake nie. Sy vermy winkelsentrums en areas waar daar ’n gros mense in een ruimte is.

Kieme versprei en jy weet nie waar vreemdelinge gekuier, gereis of gehoes het nie. Hierdie is haar maniere om haar veilig te hou.

Lockdown

Daar is ’n enorme prys wat lande se ekonomie betaal as hulle mense onder kwarantyn plaas of ’n reisverbod instel. Toeriste kanselleer verblyf en vlugte en min of geen handel vind plaas.

Hoe Italië sy lockdown van miljoene burgers gaan oorleef, kan nog nie eens bepaal word nie.

Europese lugrederye vat ’n diep knou nadat Amerika ’n maand lange reisverbod ingestel het. Jy kan slegs Amerika besoek as jy van Brittanje af kom.

My doktersvriend kanselleer sy konferensie in Edinburgh net omdat hy onseker is of hy sal terugkom na Mzansi. Die risiko om op ’n vlug te sit, selfs met ’n suurstofmasker, is net te groot.

Daar is ’n sosiale prys wat jy betaal as jy skielik van ander afgesny word. My vriende in Shanghai kuier by niemand nie; hulle gaan eet nie uit nie.

As hulle uitgaan, is dit hande was, maskers en handskoene. Jy groet nie met die hand nie. Geen drukkies word uitgedeel nie. Daar is geen interaksie met ander nie.

Haar gereelde besoek aan die salon om haar naels te doen. is vir eers ’n vae herinnering. Haar dogter kry klas oor die internet en almal gesels met mekaar in die sosiale media via WeChat.

Ek verstaan nou waarom hulle “sielkundig op en af” leef. Die enigste voorspelbaarheid is dat die dag van môre onvoorspelbaar is.

Amerika se sentrums vir siektebeheer en -voorkoming het burgers oor 60 jaar oud aanbeveel om skares te vermy, onnodige reise te kanselleer en soveel moontlik by die huis te bly. Die enkele belangrikste ding wat jy kan doen om die virus vry te spring, is om een-tot- een kontak met mense te beperk, sê ’n kenner.

Maar hoe vermy jy ’n siek persoon in ’n taxi of op die trein as dit jou enigste vervoer is? En as dit by iemand gediagnoseer word, hoe gaan jy weet met wie hulle in kontak gekom het?

Die gevolge van sulke gedrag, waarsku die National Academies of Sciences egter, is dat ons aan sosiale isolasie en eensaamheid kan ly.

Is dit waarop ons afstuur? Ál verder verwyderd van mekaar en vreesbevange vir ’n virus? Geen mens sal só kan leef nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters