27 dae gelede
Uitbuiting lei tot swanger tieners
Lynette Francis  ~ Verskaf

SEDERT die begin van die pandemie het tienerswangerskappe in Gauteng met 60% gestyg.

Meer as 23 000 meisies jonger as 18 jaar het van April 2020 tot Maart vanjaar die lewe aan ’n baba geskenk. Sommige was swanger op net nege jaar oud.

Moet asseblief nie vir my kom vertel dat ’n negejarige meisie daai mannetjies van 14, 19 of 26 verlei met beloftes van seks en versoeking nie.

Of dat sy opstaan en dink: Laat ek gou ’n baby kry vir ’n grant. Kind kry vir ’n R460? Wéét jy hoeveel kos doeke en melk?

Tog is dit hoe baie nog redeneer.

Hulle vergeet van al die risiko’s wat jy loop as jy ’n tienerma is.

Jou skoolloopbaan word onderbreek en daar is groot gevaar dat komplikasies by die geboorte kan voorkom.

Navorsing

Net omdat jou liggaam “ryp” lyk, beteken dit nie tieners is gereed om ’n ma te wees nie.

Die navorsing toon swanger meisies is minder geneig om skool klaar te maak.

Ons gemeenskap is gou om te sê: Sit hulle oppie pil of spuit – problem solved.

Hoe raak hulle swanger? Sommer sonder sperm? Behoort dit nie ’n gedeelde verantwoordelikheid te wees nie?

Seuns se lewe gaan aan terwyl meisie s’n verwoes is.

Verkragting van meisies en vroue is die laaste kwartaal met 72,4% op. Ha?

Wil ons nog beweer tienerswangerskappe is met die toestemming van alle tienermeisies?

Caroline Peters van Callas Community Projects in die Kaap vertel my van ’n seun wat sy twee susters verkrag het; van ’n ouma se boyfriend wat haar 12-jarige kleindogter verkrag het.

Dit was te laat vir die meisie om ’n aborsie te kry en die baba is aangeneem.

Wat van die pa’s wat hul dogters verkrag? Gaan ons aanhou die kort-rompies-vra-vir-seks-snert sluk?

Daar is geen maatskaplike koste vir seuns nie. Hulle lines aan met hul lewe terwyl die meisie ál die ontwrigting moet dra.

Hoeveel pa’s praat met hul seuns oor verantwoordelike seks en die gebruik van kondome as jy wil eksperimenteer? Hoekom moet elke meisie as vrugbare teelaarde beskou word? Nee, hel, ons moet ’n bietjie bykom!

Kenia

Dis nie net by die huis dat meisies en vroue seksuele predators moet trotseer nie.

In Kenia is bevind middae en aande is gevaarliker tye vir jong meisies en 53,7% van seksuele aanvalle op hulle gebeur weg van die huis af.

Die oortreders is meestal van 18 tot 24 jaar oud.

Caroline sê ons moenie vergeet wat in lolly lounges gebeur nie.

Die uitdrukking van “’n tollie vir ’n lollie” skep die indruk dat meisies seks gaan soek en hul lyf “verkoop” terwyl hulle dikwels bloot verslaaf raak aan dwelms en dan onbeskermde seks het.

Waarom praat ons van sugar daddies en blessers as mans nie ’n aandeel in die uitbuiting het nie?

As dit seks met toestemming is, is dit ’n ander saak.

Maar moenie jouself flous dat dit altyd die geval is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters