4 maande gelede
Studieskuld raak almal se las
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

AS JY alles moet sluk wat die Pinocchio-politici aan jou wil verkwansel, dan woon ons klaar in die paradys.

Hulle belowe ons huise, skoon drinkwater en gratis onderwys; kaantie sukkel ons om die riool uit die strate te hou.

Imagine jy blaas net jou towerpoeiertjies en as jy die oggend wakker word, lê die manna op jou voorstoep soos in Bybelse tye. Hoe idillies sal die lewe nie wees as ons alles vir mahala kon kry nie?

uBaba (Zuma) het destyds gewys hy weet hoe om die ekonomiese en politieke game te speel toe hy gratis hoër onderwys aan studente belowe het.

Die laaste weke se protes en ontwrigting is ’n bewys dat ons nog lank nie klaar gepraat is oor die missing middle, #FeesMustFall en finansiering deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) nie.

Die huidige befondsingsmodel werk nie. Die NSFAS het dalk nou ’n reddingsboei gekry om studente te help registreer, maar die model is nie volhoubaar nie.

Wat gaan ons met die historiese skuld maak van studente wat gaan swot, maar nie kan betaal nie?

As óns rekeninge agterstallig raak, kan ons nie sê “skryf die skuld af” nie.

Dit klink dalk gratis, maar iewers langs die pad betaal iemand (belasting).

Tensy die belasting­basis verbreed word, tap jy toenemend bloed uit ’n klip om ál die land se uitgawes te probeer dek.

Waar gaan die geld vandaan kom as ons werkloosheidsvlak so hoog is? Wie gaan betaal as die NSFAS reeds sowat 65% van studente se studieskuld probeer delg?

Laat ons ook nie pretend almal is vir die universiteit gemaak nie.

Kyk na die uitvalkoers of selfs gegradueerdes wat vele grade verwerf, maar nie ’n werk kry nie.

Hoeveel studente ding mee vir bestaande beurse?

In my dae was daar nie ’n befondsingsmodel nie.

Ek het drie beurse gehad en geen lewe nie. Ek moes daai punte volhou, gereeld vorderingsverslae skryf en elke kwartaal eksamenuitslae instuur sodat my beursaansoek jaarliks suksesvol kon wees. My ouers kon nie vir my studies betaal nie.

Ek het toe al in graad 11 voelers begin uitsteek en ál wat ’n company in die Yellow Pages is, opgesoek en mooi briefies geskryf.

Dit was ’n full-time job om die aanvoorwerk vir my studies te doen.

Ek onthou hoe ek op 16 ’n job by Jonathan Ball Publishers in Kaapstad losgeslaan het, maar hulle was bekommerd hoe ek saans by ons flêtse sou kom, want daar was nie taxi’s nie.

Tensy ons ’n model het waar die ontvangers van beurse of lenings die geld aan die staat terugbetaal, sal ons in die toekoms ál hoe meer belowende studente uitsluit. Gaan universiteite hul toelatingsvereistes moet hersien? Hul befondingskraantjie is ook laas jaar stywer gedraai en die derde stroom, die donasies, is nie meer so ruim soos vroeër nie.

Die NSFAS het dalk nou ’n pleister opgeplak, maar daai wond gaan weer oopbars. Hoor my lied ...

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters