11 maande gelede
‘Stoute’ onnies moet ordentlik vasgevat word
Foto:  ~ 

ONS weet baie van ons leerders kom uit huishoudings met ’n enkelouer. In sommige gevalle is daar ook nie ouers nie.

En ja, daar is sommige ouers wat verwag die onderwysers moet hulle kinders skool- en lewens­gereed kry, want húlle faal.

Die skoolomgewing is egter nie so veilig soos ons dit wil hê nie. Seksuele oortreders binne die onderwys­sektor raak nou té erg.

Dit is predatory gedrag, uitbuiting en misbruik van mag – finish en klaar.

As jy kyk na die jongste syfers van die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SACE) se lys van klagtes en oortredings wat teen onderwysers ingedien is, trek jou bors toe.

Die meer as 700 klagtes wissel van viktimisering, teistering, alkoholmisbruik, afwesigheid (weet nie of hulle nog tiep van die babelas nie), bedrog tot seksuele wangedrag soos verkragting, onsedelike aanranding en seksuele misbruik.

Daar was 93 sake van seksuele wangedrag, waarvan 80 ondersoek is. Altesame 44 sake is deur ’n tugproses afgehandel. Altesame 30 onderwysers is skuldig bevind en gepos. Sowat 17 van die sake is voorlopig teruggetrek.

Ál wat ek wil weet, is: Wat gaan in ’n onnie se kop aan as hy of sy dink dit is oukei om foto’s van ’n seksuele aard aan leerders via WhatsApp te stuur soos daar in KwaZulu-Natal?

Skirtjies

Hoe dink ’n onderwyser sy kan seks hê met leerders en niemand gaan ooit snuf in die neus kry nie?

Op watter vlak is daar óóit regverdiging vir só ’n daad en sulke optrede?

Hoe kan jy bedank en skynbaar ongeskonde daarmee wegkom? (Ek verneem wel die SACE kan vervolg.)

Ja, ek weet, nie alle onnies het lae morele en etiese oordeel nie. Nie alle leerders is ook engeltjies nie.

Ons sien die juffies met die low-cut tops en die menere met die skinnies asook die leerders met die kort skirtjies waaroor Cardi B kan rap.

Feit is: Die magsverhouding is nie dieselfde nie en dit is die onnies se plig om die volwassene te wees. Hulle is die opvoeders.

Hulle moet die waardes en beginsels van hulle etiese gedragskode toepas, ongeag die versoekings.

Ingevolge die Kinderwet moet die name van die onnies wat hulle skuldig maak aan seksuele oortredings, in die nasionale kinderbeskermingsregister opgeteken word sodat hulle nooit weer met kinders mag werk nie.

Maar omdat hulle nie in ’n hof skuldig bevind word nie, is dit moeilik om hulle te lys. Die ergste prys wat hulle betaal, is ’n skorsing.

Jy verskyn nie op die register van seksuele oortreders nie, maar wel in die kinderbeskermings­register.

Ouers het ook die keuse om die saak by die polisie aan te meld sodat ’n kriminele proses gevolg kan word.

Verlede jaar was daar 16 skoolmeisies by een skool swanger omdat 3 onnies met hulle seks gehad het.

Kollegas moet ook die kultuur van sameswering stop en hulle stilswye verbreek. As jy stilbly, is jy ’n enabler en nie minder skuldig nie.

Dikwels weet hulle die kinders praat oor die onnie wat te stywe drukkies gee of kwyl oor meisies met hulle kort rompies.

By die Bishops-seunskool kom daar nou seuns na vore wat glo al vir jare deur die polo coach (seksueel) “afgerig” is.

Op hoërskool is jy oorbewus van jou ontwikkelende lyf en die hormone stuur jou in ’n flat spin.

Natuurlik dink 18-jariges hulle is die main ou as die juffrou met hulle flirt of die meneer sê jy het bene vir Afrika.

Dit is egter onvanpas, dit is grooming en dit kom neer op uitbuiting.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters