2 maande gelede
Spuit, want die nag kom nader
Lynette Francis-Puren  ~ 

WERK, want die nag kom nader.

Ek wil dit amper herskryf na “spuit, want die nag kom nader”.

Dit is net Bybelverse wat my te binne skiet nadat ek gelees het ons mense glo gebed is genoeg om hulle teen Covid-19 te beskerm.

Dit herinner my aan daai Bybelvers in James: “Faith without works is dead.”

Oukei, jy het geloof. Oukei, jy bid. Maar sit jy nou en voetjies hang totdat die manna uit die hemel val?

Ons moet mos ons deel ook doen!

Die Afrika-navorsingsnetwerk Afrobarometer het met sowat 1 600 volwassenes in ’n steekproef oor inentings gepraat.

Dit blyk dis onwaarskynlik dat 42% van diegene met wie hulle gepraat het, hulle sal laat inspuit.

Altesaam 47% maak dit ’n saak van gebed en glo dit is beter as entstof om jouself te beskerm.

Snot

Mmm … Maar hoekom is daar geskryf: “Gaan na die mier en word wys?”

Miere is wys genoeg om voorsiening te maak vir kos in die wintermaande.

As jou kop pyn of jou neus loop, wag jy nie totdat dit eendag soos ’n wonderwerk verdwyn nie. Jy sluk ’n pil of jy kry ’n tissue­, want jy het darem common sense en wil nie ’n strikdassie van snot met jou saamsleep nie.

Die jongste data in Amerika toon dat die meerderheid van sterftes daar onder persone is wat nie ingeënt is nie.

Vaccines is nie ’n magic potion nie, maar dit gee jou darem ’n beter kans op oor­lewing indien jy ook besmet sou word.

Dit blyk in baie van ons land se armer gemeenskappe is daar nog groot onkunde oor die waarde van entstowwe.

Ons mobiliseer mense nie genoeg nie. Ek hoor van ’n taxi driver wat vroegoggend, eerste ding, mense aanry tot by die sentrums sodat hulle ingeënt kan word.

Daar’s baie mense wat geregistreer het, maar dan sit en wag hulle op ’n SMS.

Dierbares, as jy weet jy het geregistreer of jy het gehelp om iemand te registreer, moenie nog wag vir ’n teksboodskap nie.

Gaan stap in by ’n centre en vat jou ID saam.

Risiko

Neem verantwoordelikheid vir jou veiligheid.

Daar is reeds sprake van ’n vierde vlaag hier teen Desembermaand, want ons sal glo nog nie kudde-immuniteit opgebou het nie.

Ek het nou al die teenargumente gehoor en het nie die ruimte hier om dit aan te spreek nie.

Net dit: Entstowwe verminder die risiko om iemand aan te steek met 60% tot 80%. Sekere lande wil al booster shots begin spuit.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moes smeek dat lande soos Israel en Duitsland eers wag tot ten minste einde September en totdat ten minste 10% van die armer lande hul mense ingespuit het.

Gee Haïti en die Demokratiese Republiek van die Kongo ’n kans om op te vang.

Gee antie Sophie ook ’n kans om eers haar shots te kry, kanala.

#MakeTheCircleBigger

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters