Verlede maand
Soos altyd wag SA op beter dae
 ~ 

IN BRITTANJE spog hulle oor die hoeveelhede entstof wat hulle al toegedien het.

In Skotland spesifiek is ál die besighede oop, kinders is terug skool toe, jy kan sport beoefen en met sowat ses gesinne op ’n slag kuier.

Hulle maak al planne om internasionale toeriste te ontvang vir die Edinburgh-fees.

In Europa is hulle vol selfvertroue dat hulle binne maande groep-immuniteit gaan bereik, want so baie van hul burgers het al die inspuiting gekry.

Hier hang ons nog voetjies. Die gesondheidswerkers was eerste ontvangers, maar ek weet van verpleegpersoneel in die Vrystaat wat nog wag om ingeënt te word.

Die afgelope week het ek kontak met ’n verpleegsuster in die voorste linie. Sy vertel hoe hulle in fases ingeënt is in die Kaap; die vrae oor AstraZeneca, en of Pfizer of Johnson & Johnson die beste opsie is.

En hier sit ons steeds op pause. Ministers vat joy rides na lughawens om cargo te verwelkom en gaan kyk waar die entstowwe geberg word. Maar by inspuit, kom ons nie uit nie. Ons is mos net goed met beloftes maak en better days are coming warra-warra-warra …

Intussen sit Suid-Afrika se naam vet gedruk op Brittanje se rooilys van lande wat liefs nie besoek moet word nie en vir wie internasionale reis ’n groot vraagteken bly. Baie internasionale vlugte na SA is reeds gekanselleer.

Sal jý na ’n land gaan as jy onseker is oor jou gesondheid en veiligheid?

Maar ons hoop om oorsese beleggers te lok terwyl ons ekonomiese beleid so omslagtig is en daar geen duidelike plan is om die hart en vertroue van die land terug te wen nie.

Thuma mina – waantoe nou weer?

Die kabinetskommeling kom. Watter boodskap stuur dit? Ons verklein die kabinet, want ons wil geld spaar en meer effektief wees of ons skuif maar die stoele op die dek rond sodat dit lyk asof daar verandering is.

Wat is SA se herstelplan? Seriaasly!

Ons moet later vanjaar in ons plaaslike verkiesing gaan stem en ons weet steeds nie wanneer nie.

Doolhof

Hoe beplan jy vir doelwitte en gebeurlikhede as daar ’n krisis is? Dit is soos om ’n sokkerspan veld toe te stuur en al wat ons doen, is skop die bal van die een na die ander, ’n paar toertjies met die boot, maar daai bal beland nooit in ’n doelhok nie.

Dit is ’n doolhof van ’n “same old, same old”-benadering as dit by besluite en implementering kom.

Dis hoekom ons steeds sit en wag vir die derde vlaag van infeksies. Dít is wel op dreef – gister reeds oor die 1 000 na die Pase-pret. Winter kom …

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het natuurlik ons nasionale rampstatus tot 15 Mei 2021 verleng. So gaan dit al maand vir maand sedert 2020.

Die regering maak besluite wat ons lewens en livelihood ingrypend raak met min oorsig van die parlement.

Al wat ons kan doen, is sit en wag vir ’n new dawn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters