7 maande gelede
Skoolbywoning lyk soos 'n saak van lewe en dood
skool
Foto ter illustrasie  ~ martinedoucet/Getty Images

’N LUISTERAAR skryf op ons SMS-lyn: Soek jy ’n matrieksertifikaat met vrystelling of ’n doodsertifikaat?

My lyf raak yskoud. Goosies op my arms vir ál die verkeerde redes.

Is dit waarop die keuse vir ouers op neerkom? Teken jy jou kind se doodsertifikaat as jy hulle skool toe stuur soos die departement van basiese onderwys nou voorstel?

Ek is mos nie een vir verdagmakery nie, maar hel, ek deel ouers én onnies se worries oor die departement se bevoegdheid om die krisis te bestuur.

Ja, ek weet kinders is veerkragtig en hulle herstel vinniger as die oumas en oupas wat in die kwesbare groepe val.

Kinders is glo in 90% van die gevalle asimptomaties, maar hulle kan nog steeds die mense by die huis aansteek.

Die departement sê die kinders gaan in fases terugkeer skool toe. Oukei, daai’s die plan.

Hoe maak ons seker elke taxi- of busbestuurder sanitise die vehicle ná elke rit? Hóé maak ons seker elke kind dra ’n gesigmasker elke dag en gryp nie die ander kind s’n nie?

Wegskrop

Hulle sukkel klaar om hul broodbakkies of dasse huis toe te bring. Hóé pas hulle die maskers op?

Hóé doen hulle social distancing as daar 40 plus kinders in ’n klas sit? Wat sê jy vir die doofstom leerder waarom hulle die maskers moet aanhou?

Die departement sê al die klasse moet elke oggend ontsmet word. Skole moet glo hierdie week beginne deep cleanse en elke kiem wegskrop.

Sodra leerders instap, moet hulle hul handjies sanitise én maskers dra.

Ek weet nie waar die juffrou die geduld en krag gaan kry om dit te manage nog vóór die klas begin nie.

O, ja, kinders moet ook nie tyd mors tydens periodes nie en vinnig na die volgende klas beweeg.

Die departement vergelyk ons skole met dié in Switserland, Swede en Denemarke. Die idilliese omstandighede waar daar 10 leerders in ’n klas sit. Sug.

Vakbonde glo leerders en onnies se lewe word op die spel geplaas.

Die voorstelle is verwarrend en ondeurdag. Hulle is oortuig daarvan die onderwysdepartement is nie gereed vir die terugkeer en infasering van leerders nie.

Daar is 25 000 skole en 13 miljoen leerders. Die positiewe gevalle en die sterftesyfer neem toe.

Die winter is op pad en ons het nog nie naastenby ’n clue vir hoe lank ons hiermee gaan saamleef nie.

Voorspellings is dat ons teen September ons piek moontlik gaan sien. Met die komende winter gaan dit moeilik wees om te onderskei tussen Covid-19-voorvalle en wintergriep.

Die Verenigde Nasies ter plaatse het ’n halfmiljard se noodfondse gevra om byna 10 miljoen kwesbare Suid-Afrikaners by te staan.

Die geld, benewens die Solidariteitsfonds, sal glo gebruik word vir water en sanitasie, voedselsekerheid en die gevolge van geslagsgeweld. Die fondse sal nagenoeg 9,9 miljoen mense kan help.

Sommige leerders kan aanlyn onderrig kry, maar kinders in landelike gebiede het nie toegang tot dieselfde platforms nie. Daar is dan steeds modderskole, puttoilette, nie eers kos by elkeen se huis nie.

Gaan hulle elke dag seep en water by die skool kry? Hóé lyk die toilette by jou kind se skool?

Gaan daar beskermende drag vir personeel wees en waar gooi ons die gesigmaskers? Neem dit huis toe en was dit daar?

En wat as ons siek word? Waar gaan ons in kwarantyn? Gaan juffrou elke oggend terwyl sy die attendance call doen, sommer ons temperature ook neem? En as daar een positiewe geval in ’n klas of skool is, moet almal in kwarantyn gaan? Hóé maak ons, madame Angie?

Dit is ’n saak van gebed en common sense.

  • LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters