3 maande gelede
Regering steun nie ons skole
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

EK HET gister verjaar, maar voel ouer as wat my geboortesertifikaat sê, want ek sit al sedert 21 Januarie in die klas.

Dit was nou wel virtueel, maar dit maak dit nie minder stresvol nie.

Die twee vorige dae het die skool die graadeentjies vir twee dae in hul uniforms skool toe laat kom sodat hulle gewoond kon raak aan Juffrou en die verskillende vakke.

Ek moes inderhaas by die werk afvat sodat my klein persoon by die skool in ’n roetine kon kom.

Die volgende dag sit die graadeentjies in die klas.

Gelukkig ken die kind van Zoom en hoe om haarself aan te meld terwyl ek op die lug voor ’n mikrofoon sit.

Op 1 Februarie is ons fisiek by die skool, maar ouers word nie op die skoolgronde toegelaat nie.

Kantoor

Kleine Maya moes haar rugsak met ál die handboeke vir ses vakke saam-schlep, alleen in ’n ry staan om te registreer en op haar eie regkom.

Ons het reeds die eerste ouervergadering met Juffrou by die skool gehad – ek by my huis, my man in sy kantoor, alles virtueel.

Binne die eerste week by die skool vertel sy vir my die IT-klasse is haar gunsteling, want sy het ’n pass­word en email-adres en kan sy asseblief my muis en laptop gebruik om te teken? Alles in een asem.

Ek besef opnuut hoe groot die gapings tussen skole en hul toegang tot hulpbronne en geleenthede is.

Een taalonderwyser het ál die lesse in koevertjies verpak sodat sy vir ’n maand en ’n half kan klas gee.

Hulle het selfs PT- en IT-klasse aanlyn gekry.

Terwyl die groot avontuur daagliks nuwe ontdekkings meebring, brand my hart vir ouers wat nie hul kinders met ’n geruste hart skool toe kan stuur nie.

Hulle is gedurig bekommerd, want hulle weet nie of dit veilig is nie en of daar voldoende sosiale afstand is nie, want hul kinders sit in oorvol klasse.

Sommige kan nie skoolskoene bekostig nie; wat nog te sê van ’n lapmasker wat elke dag gedra en gewas moet word.

Dodge

Dit breek my hart, want daardie arme kinders het mos nie die agteruitgang gekies nie.

My kind hoef ook nie bullets te dodge om by die skool te kom nie.

En dít is die wrede, sad werklikheid vir baie ander kinders.

My vriendin vertel van haar huishulp wat toiletrolle, handwash dispenser en wie weet wat nog alles skool toe moet stuur, want die skool het niks nie.

Waar is die regering en sy beplanning en ondersteuning?

Antie Angie (Motshekga), ons minister van basiese onderwys, thetha liewer twak dat educated mans nie verkrag nie. Henna!

Die pandemie in ons land met sy korrupte amptenare het net die ongelykhede in die onderwys en in ons samelewing verbreed en gewys – diegene wat óns moet dien, sorg nét vir hulself.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters