Verlede jaar
Politieke drama vang ’n mens steeds onkant
Foto:  ~ 

DIE verwikkelinge in ons politieke chambers en slaapkamers vang ’n mens elke keer onkant.

Ek behoort nie meer geskok te wees nie – veral nie ná al die onthullings wat ons al by die Zondo-kommissie van ondersoek gehoor het nie. Maar ek is steeds ontnugter.

Daar sterf die sogenaamde protagonis in die Bosasa-skandaal in ’n vreemde motorongeluk so asof dit ’n sepie is wat hom uitspeel.

Dis nie soos Stefano DiMera wat keer op keer uit die dood herrys en die volgende intriges van Days of Our Lives laat ontvou nie.

Hierdie is die reality van Mzansi – ’n ekonomie wat doodbloei, stygende werkloosheid en ’n ontwykende reënboog van samesyn en versoening.

Ons lees in koerante van twee ministers met prominente poste wat glo oor ’n vrou twis. Wil ek weet dat oupa Gwede Mantashe soos ’n tier in die slaapkamer is en dat Tito Mboweni nie net voor die kospotte stoom afblaas nie? Dis hier waar ek my oë styf toeknyp. TMI! Too Much Information! wil ek skreeu.

As die knape so kwaai fight oor die katels, wat gebeur in hulle portefeuljes? Die einste Tito het die afgelope week sy mediumtermynbegroting in die parlement voorgelê. Hy sê ons moet ons spandeergordels styf vasknyp, want daar lê geldelike padwerke voor.

Oukei, ek paraphrase, maar die gees van die boodskap is dat ons moet klaarmaak vir die maer jare (in Bybelse terme) met of sonder Eskom se beurtkrag, korrupsie en stygende tariewe. Alles is op... En ons is ook óp van die regering.

Verskille

Hulle praat oor korrupsie in die derde persoon. Asof “die regering” ’n verlore planeet in die ruimte is wat vir niks geblameer of verantwoordelik gehou kan word nie.

Hulle praat van die salarisrekening wat nie kan byhou by die oortollige staatsdienswerkers nie (moenie eens praat van die duisende inflated salaries by Eskom nie). Wie bestuur die land se geldsake nou weer?

Daar word al lank gepraat van die DA as “ANC Light”. Miskien omdat daar nie noemenswaardige verskille in hulle benadering is nie? Die meeste van die tyd het hulle nie teenvoeters vir die planne van die ANC nie en kan hulle mos in die gemakstoel sit van “I object”, heeltyd vinger wys en nie self met oorspronklike beleide vorendag kom nie.

Die laaste twee weke besef jy die DA se binnegevegte is erger as die anties wat fight oor wasgoedlyne en wie vroegoggend die pennetjies eerste gesteek het.

Jô, maar dis morsig in die politiek! Die bloedbroers en susters swaai die mantel sommer na die wind as dit beteken hulle kry beter poste.

Athol Trollip is weg, Mmusi Maimane is weg, Herman Mashaba is weg.

John Steenhuisen, wat altyd so die parlementêre boekie van rule of law kwoteer as hy spiets, is nou die parlementêre leier en gooi sy lyf in die ring om die gesig van die nuwe DA te word. Natasha Mazzone is nou die DA se hoofsweep.

Moruti Maimane het die een dag vir Mashaba sy hero genoem en kort daarna gooi hy ook ’n lange. Het die gees hom gelei om te bedank of het die DA chambers te klein geword?

Het die “Zillenator” hom opgeslurp soos Lindiwe Mazibuko, Mamphela Ramphele en Patricia de Lille?

Zille het hom darem lelik in die gesig gevat toe sy getwiet het sy berou dit dat sy die swart leierskap in die DA gekweek het.

Wat sê dit van die ander swart leiers wat in die party oorbly? Is die voorland van die amptelike opposisie ’n bank wit gesigte wat nie met hulle huidige swart kiesers kan identifiseer nie?

Hoe gaan die DA sy geloofwaardigheid terugkry met 2021 se provinsiale verkiesing wat wink?

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters