6 dae gelede
Politici lyk almal ‘belowend’
Lynette Francis-Puren  ~ 

ISSIT tricks, onkunde, kullery of kansvattery? Ek het lysies gemaak van ál die beloftes wat politieke partye aan voornemende kiesers maak...

In ’n onderhoud sê een party hulle sal jou ’n voucher vir R200 000 gee wat jy kan gebruik om ’n huis te bou.

Ha? ’n nuwe party wat sommer al vouchers belowe en hulle weet nog nie eers of hulle stemme gaan lok nie?

Dan is daar diegene wat glo vir ons huise gaan bou én sommer al jou water- en kragprobleme tjoef-tjaf gaan uitsorteer. Dis net hartseer dat daar mense is wat sulke wilde beloftes vir die waarheid aankyk.

Intussen kruip 1 November nou vinnig nader.

Ek weet nie of jy al besluit het vir wie jy gaan stem nie, maar laat ek jou raad gee: Moenie dat enige iemand jou stem “koop” met niks anders as vae beloftes nie.

Moenie dat hulle met jou kop smokkel en sê jy gaan jou toelae verloor as jy nie vir hulle stem nie. As jy vir hulle vir ’n one wil vat, sê net jy sal vir hulle stem (maar dan gaan maak jy jou eie mind op in die stemhokkie). Moenie afgedreig word nie.

Waak teen enige iemand wat spin ’n stem vir ’n kleiner party is ’n vermorsing. Dit is nie waar nie. Jou stem kan jou party die voorsprong gee of koningmaker maak in ’n koalisie­regering. Jy gooi dit nie weg nie.

So van beloftes gepraat: Die president vertel sommer vir Soweto se inwoners hulle moenie worry nie; hy het met comrade Pravin gesels en hul Eskom-worries gaan een van die dae ’n memory wees.

Soweto se mense wil ’n flat rate van R200 per maand betaal.

As jy desperaat genoeg is vir stemme, sal jy seker enige iets belowe vir diegene wat dit wil koop...

Skielik is daar miljarde om jong mense van werk te voorsien en te betaal. Vandag praat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, oor die sektor se reaksie op die pandemie en hervatting van klasse op pad na die matriekeindeksamen. Hoe gaan dié prentjie ingekleur word net so voor die verkiesing?

Dalk wil jy ’n belasting­betalersvereniging, ’n community-forum of ’n individu wat staan, ’n kans gee?

Verbeter

As politici nie van deur tot deur by jou kom aanklop nie, maak hulle video’s in jou strate of hou parades met trompoppies en brass bands.

Maar as hulle in die afgelope vyf jaar nie jou lewensgehalte verbeter het nie, wat gaan nóú anders wees?

Hoekom gaan die dreine nou skoongemaak word?

Ek sien Angus McKenzie, raadslid van wyk 50 (Bonteheuwel) in die Wes-Kaap, hou sy lyf Ghostbuster en meen jy kan hom aanroep in jou uur van benoudheid, beurtkrag of bendes se bullets. En as jy die kraan oopmaak en daar is nie water nie, sal hý tot jou redding kom... Moenie vergeet nie: Dit is sy party, die bloue DA, wat aan bewind is in die plaaslike regering.

Miskien wou hy wys hy is diensbaar vir die gemeenskap, maar die boodskap het net verkeerd uitgekom...

Dit is hoekom ek nie kan besluit of die beloftes kullery of kafpratery is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters