4 maande gelede
Ou Britte voel Harry en Meg pleeg verraad
royals
Prins Harry en Meghan, hertog en hertogin van Sussex, kom in Nyanga aan.  ~ peter abrahams

HULLE noem dit Megxit – die dag toe Harry en sy Mêggie besluit het om as senior koninklikes ’n treetjie terug (en grootliks weg) van hulle verpligtinge te gee en Brittanje te verlaat.

Hulle gaan soek nou mos nicer mense en ’n beter omgewing in Kanada.

En who can blame them? vra die anties.

Van die Britte is maar skynheilig as dit kom by gemengde huwelike.

Oor Harry se caramelkleurige liefde het hulle gal gebraak. Net omdat Meghan royalty is, het dit hulle nie juis gekeer om hulle onderrokke te laat uithang nie.

Oe, praat van rassistiese bitterbekke!

Op my vakansie blaai ek deur die geel pers en spesifiek die royal watchers se stories.

Praat van smet. Jy kan duidelik sien hoe bevoor­oordeeld hulle kan raak. Dit is om sommer van naar te word.

Waity Katy (van prins William) sit nie ’n voet verkeerd nie, maar o wee, Meghan word uitgebeeld as ’n onbeholpe gold-digger wat net aandag soek.

Konsultasie

Hulle het selfs tydens haar swangerskap daarop gesinspeel dat dit ’n fake pregnancy is!

Die queen se mense sê hulle werk ’n deal uit oor hoe om die oorgangsperiode moeitevry en soomloos te maak.

Kaantie is hulle diep die hel in vir die twee wat sonder konsultasie die aankondiging eers op hulle amptelike webtuiste gemaak het.

Oumie en Dêrra wiet van niks! Maar nou moet hulle maar pretend hulle is orrait met die gedagte.

Feit is – Harry tree op in belang van sy familie. Hy wil nie hê sy vrou moet dieselfde paadjie loop as sy ma nie.

Die paparazzi het sy ma tot in haar graf gevolg en haar lewe hel gemaak ná haar egskeiding van Charles.

Met Harry en Meghan se troue het die belangstelling in die koningshuis en die monarg weer vlam gevat. (Haai, die gogo ry nog haar eie kar en sy is al oor die 90!)

Terwyl Engeland sukkel om sy Brexit-ooreenkoms met die Europese Unie in plek te kry, is Megxit ’n gerieflike slaansak.

Die Britte stry oor identiteit, ras en klas. Hoe durf mense, royalty boonop, verkies om die homeland te verlaat en dit nogal vir Noord-Amerika!

Harry en sy vrou wil hulle eie potjie krap.

Hulle sê hulle wil net hulle eie geld verdien en ’n mate van “normaliteit” vir klein Archie probeer skep.

En hulle sal darem geld kan maak met hulle toesprake en openbare verskynings.

Die jonger Britte, noem hulle maar die millennials, verstaan die paartjie se besluit om ’n lewe buite die koningshuise te wil skep.

Die ouer, konserwatiewes beskou dit egter as verraad. Hoe kan hulle hulle rug so op die queen draai? (Dit is hoeka die konserwatiewes wat so geteem het vir ’n Brexit, maar nou wil hulle moan).

Hoe lui die Engelse spreekwoord? “Don’t bite the hand that feeds you.” Maar my, wat moes die tweetjies nie alles sluk en dít in die naam van protokol nie?

Harry het al verlede jaar sommige mediahuise op notice geplaas oor hy nie hulle boelie-gedrag duld nie. #Shots­Fired.

In die Britse pers word Harry en Meghan uitgebeeld as twee selfsugtige geldwolwe wat die perks van royal life wil geniet, maar nie hulle verantwoordelikhede wil nakom nie.

By die huis wil Meghan maar net op haar ma, Doria, se yoga-mat lê en ’n zen tuiste vir haar man en haar kroos skep. Royalty ofte not.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters