24 dae gelede
Ope briewe se voet – ons ly!
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

AS DAAR ’n hel is, moet ons direkte vlugte bespreek vir die duisende skaamtelose staatsamptenare en politici wat so van die armes steel.

Aan die een kant probeer jy gesond bly om nie die virus te kry nie, maar aan die ander kant staan jy bakhand en wag vir die regering om jou in dié krisistyd te help oorleef.

Dan steel hulle helder oordag die beloofde manna uit jou mond. Dis ’n disgrace!

Ek lees ’n brief van een werklose wat sê hulle moet maar die R350 hou, want hy kan nie meer wag vir die dag wanneer hulle uiteindelik hul beloftes gaan nakom nie.

En dan wil ek nie eens praat van die miljoene rande wat die Covidpreneurs deur sogenaamde amptelike tenderprosesse onder ons gemaskerde neuse gekaap het nie.

Geskors

Weke gelede kyk die kommissaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds, Teboho Maruping, my via Skype­ diep in die oë en wei uit oor die duisende mense en besighede wat die fonds gehelp het en gaan help.

Eergister hoor ek die minister van arbeid, Thulas Nxesi, het hom geskors weens al die onreëlmatig­hede met Ters-uitbetalings wat op sy watch gepleeg is.

Ek onthou hoe Maruping my gewaarborg het dat die oponthoud met uitbetalings weens foutiewe stelsels was. Volgens hom kon hul website nie die verhoogde aktiwiteit hanteer nie en toe crash dit.

Dit was dieselfde sous by die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die kospakkies en toelaes wat nie by die mense uitkom nie. Ook op my program Fokus spin hulle stories vir die land se armes wat vlees en been met hoop en gebed aan mekaar las.

Kaantie vreet almal behalwe die hulpbehoewendes.

Dit is onmenslik en maak ’n mens naar as jy dink hoe mense wat salarisse verdien steeds skep en skep, oorbordens vol.

Ek luister na die stigter van Gift of the Givers, Imtiaz Suleiman, wat sê in al sy 28 jaar van humanitêre hulp het hy nog nooit soveel hongersnood gesien nie.

Kinders in die landelike dele van die Oos-Kaap wat op rommelhope jêmblikke se deksels aflek en wilde plante in die gebied eet, want daar is geen kos nie.

Desperate

Daar is plekke waar 1 000 families van net 10 kospakkies moet probeer leef, want dit is al wat vir hulle afgelewer is.

’n Ma voer haar kinders gif, want sy kan nie meer voor God en die mense huil nie.

Desperate, honger gesinne wat werk en hoop verloor het, maar dan het ons nog tyd om oop briewe aan kaders te skryf om te sê hulle moenie steel nie.

Geen decency nie.

Dis net chow van die môre tot die aand.

Dan verwag die president ons moet net geduldig wees.

Elke goddelike dag moet ons lees van ons land se verval.

Ons is óp van die sterftes, die leuens, die two-timing, die ope briewe en die ver­skonings. Hulle vat ons vir ’n gat. Period.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters