23 dae gelede
Ons kinders verdien baie beter
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

DIE moordenaars van Nathaniel Julies van Eldoradopark begin mekaar oor en weer blameer vir sy dood.

Die een beweer dis ’n set-up; soveel so dat die polisie nou probeer vasstel of daar vorige gevalle is waar hulle dalk beskuldig is van soortgelyke oortredings en net nie vervolg is nie.

Ons almal het mos ’n track record, of dit nou goed of sleg is.

Ek volg Chrissy Teigen, die sanger John Legend se vrou, in die sosiale media. Sy skryf onlangs oor die verlies van haar baba. Hulle sou hom Jack noem. Albei ouers is gebroke.

Ek dink onmiddellik terug aan die onderhoud met Nathaniel se ma op TV waar sy praat oor die drome wat sy vir hom gehad het, al het hy Down-sindroom gehad.

Onheilspellend

Sy was stukkend en vra vir geregtigheid.

Soveel ouers smeek ons regering en wetstoepassers om geregtigheid en closure vir hul kinders.

Die afgelope week is ’n gesiene politieke leier in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van sy twee dogters. Die stilte van seksuele geweld teenoor kinders bly onheilspellend.

By 41% van alle aange­melde verkragtings in ons land is die slagoffers kinders. Dit is net waarvan ons weet, want daar is ’n saaknommer.

Tussen 27 Maart en 30 April 2020 het Gauteng Childline alleen ’n 400%-toename in oproepe gekry waarvan 62% oor mishandeling en aanranding gehandel het.

Dis onbekend hoeveel kinders die slagoffers was, want hul stemme is stil. Dis maande gelede…

Die Children’s Institute het onder die vaandel van Unicef, die Verenigde Nasies se kinderfonds, ’n verslag saamgestel wat die noodkreet van Suid-Afrika se kinders belig.

Dit sal jou slapelose nagte gee as jy ’n versorger is. Een uit elke vyf kinders sterf voordat hulle vyf jaar oud word.

Hulle ly honger, is siek en ondervoed, want daar is nie kos nie. Hulle voel onveilig en weerloos.

Regerings wat byvoorbeeld geld opsygesit het vir inentingsveldtogte het dié geld na Covid-verwante projekte herlei. Kinders ervaar eerstehands geweld in die huis of word groot met geweld in hul gemeenskap.

Wanneer hulle hulp vir hul trauma benodig, is daar dikwels óf nie hulpbronne óf nie toegang tot sielkundige hulp nie. Hulle loop rond as gewondes.

Maar meer geld beteken nie dit gaan beter met ons kinders nie. Ons verwar welvaart met welstand van kinders, sê dr. Erika Hitge, ’n berader in ’n privaat praktyk.

Kinders het ’n behoefte om te connect met ander, om te weet vanwaar hulle kom, om veilig, geborge en geliefd te voel.

Faal

As ouers nie die kapasiteit of vaardighede het om die kind se menswees te voed nie, kan hulle dit nie help skep nie.

Só bly die kind geestelik en kognitief armer.

As ’n regering en gemeenskap faal ons die kinders dag ná dag.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters