Verlede jaar
O vloek, nou wil die Stad ons monde uitspoel
Muizenberg se strandfront  ~ 

DIT maak nou vir my sin. Daai dag toe die antie oor die fence skreeu sy sal die kind so moer dat die see hom nie sal afwas nie.

Sy was haar tyd vooruit. Iemand in die by-laws-beplanningskomitee van die Stad Kaapstad wat vloekery op strande wil reguleer, moet seker uit my ’hood kom.

Want die Vader weet hoe bedoosd jy moet wees om te dink jy kan vir mense sê hulle moet nie by die see vloek nie. Vir rêrig.

Dit is soos om vir ’n haai te sê: “Stay in your lane. Moenie die mense gaan byt wat so diep in swem nie.”

Dis soos om vir die diere in die dieretuin te sê hulle moet hulle nie soos diere gedra nie, want mense kom vandag besoek aflê.

Van wanneer af gaan jy vir mense voorskryf wat hulle mag en nie mag sê op ’n openbare terrein nie?

Toe ek dít hoor, toe dink ek terug aan die dae toe die honde-eienaars up in doggy poo was oor hulle voortaan met sakkies moet loop om hulle honde se bollie op te tel.

Maniere

Skuimbekkend het hulle geloop, want al het jou hond dan nou ook Barbara Woodhouse training gehad, weet jy mos ongelukkies gebeur.

Hond se kind wil óf ’n ander brak warm maak en lek óf teen ’n paal sy ding doen. En dan moet jy maar go with the flow.

Dit impliseer nie jou hond het nie maniere of dat jy ’n slegte eienaar is nie. Dis maar plain en simpel ’n geval van die nood druk.

So, as jy (per ongeluk) “shit!” skree, want jy het in bollie getrap (wat ’n hond gemaak het en die eienaar het dit nie opgetel nie) – wat is die oortreding dan? Dit is mos BOLLIE!

Die City kan skaars die clubs wat die neighbourhood met onaanvaarbare noise levels oorvat, beboet vir hulle oortredings deur hulle by-laws toe te pas.

Ek het talle kere daar in Observatory die polisie gebel en gekla, maar dololo aksie.

Nou hoe gaan dit nou werk oor die festive? Waar park ons die potte, die komberse, die sambrele, die cooler bags, die damstafel in die Kaapse son as ons eers ons monde met Anti-Swear moet uitspoel?

Moet iemand jou hoor “vloek”?

Wat moet die vlak van die kragwoord wees om dit onaanvaarbaar te maak en as “kru en aanstootlik” te laat kwalifiseer? Kan jy innuendo gebruik soos byvoorbeeld: “Sê vir jou ma daar’s vis”?

Is té uitspattig hard lag ook ongewenste gedrag op die strande?

Jy sal vinnig moet dink, want jy het net tot 2 September kans om jou insette op die voorgestelde verordening van die metroraad te lewer.

Jy mag ook nie glas na die strand neem nie, so gooi alles oor in plastiek. Maar onthou – die oseaan verdrink onder al die plastiek en die visse versmoor. So, dink maar mooi watter container jy gebruik.

As jy skuldig bevind word aan die gebruik van kru taal, kan jy beboet word of tronkstraf van nie meer as twee jaar opgelê word.

Vlag

Jy mag nie drank, dwelms, kos of goedere op die strand verkoop nie. En hou jou weg van onbetaamlike dade. As jy tempted voel om ’n gazebo virrie shade te bring, maak tog seker dis kleiner as 9 m² en nie “unsightly” nie.

Die uiteensetting klink so belaglik soos die persoon wat meen die ou Suid-Afrikaanse vlag mag steeds in die privaatheid van iemand se huis hang as dit niemand wat dit sien, gaan aanstoot gee nie. As die huiswerker aanstoot neem, sal dit verwyder moet word.

Watter huiswerker gaan in hierdie tye vir die mêrrim sê “daai vlag in die voorhuis offends me”?

My raad: Bly kalm en vloek saggies. En comment.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters