2 maande gelede
Ná 10 jaar klaar – dankie vir jou deel in my lewe
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

EK WEET nie waar om te begin nie.

Hoe sê ek dankie dat jy die afgelope 10 jaar via dié blog in my lewe was?

Ek weet ek het jou soms naar gemaak wanneer ek jou politieke leiers se eerlikheid bevraagteken het of ’n bietjie die goed wou challenge wat in die kerk, skole en home town aangaan.

Maar ons het saam gegroei, geswets oor hoe ons intelligensie onderskat word, en gemoan oor hoe stadig die wiele van justice kan draai.

Nou sluit die koerant. Dis 10 jaar later en dit voel soos ’n break-up wat my geblindside het.

Die een dag chat ons nog so lekker en dan is jou stem vir ewig stil. So amper asof Covid-19 jou sonder waarskuwing van my steel.

Ons is deur Madiba se afsterwe, Ubaba en die Guptas en nou tob ons nog oor #SendMe Cyril en Corona.

Ky’hie, ek is ’n privaat persoon.

Ek praat nie oor my biesagheid nie, al sê die tagline “Lynette se mense”. Maar met jou het ek my hartskamers oopgemaak.

Toe ander my vra vir ’n vry in ’n ander koerant, toe weier ek, want ek is mos daai goose – loyal to the core. Nie eens méér geld het my in die versoeking gebring nie.

Kersfees

Dit maak nie saak waar ek gereis het nie; my roots en bronne lê diep geanker in my gemeenskap. By jou, al sien jy my net oppie TV of die wireless.

Die Son sien mos alles, of hoe?

En dis danksy die Son dat ons nader aan mekaar kon beweeg.

Jare gelede, net voor Kersfees, raak ek baie, baie nervous. Min dinge laat my maag draai, maar ek het ’n droom gehad wat ek nie kon ignoreer nie. (Ja, ek glo in drome en engele, so by the way.)

Ek spaar jou die detail, maar ek het enkele maande voor Krismis in ’n foreign currency gepay. No shade vir die rand nè!

In my droom deel ek Krismis-hampers uit soos watse mother Xmas. Toe nader ek die Son en vra of ek ’n kompetisie kan borg wat oor die festive season hampers en ander noodsaaklikhede dek.

Obviously het ek ’n storie gespin oor waarom ek dit wou doen, want dit was nie min geld nie. Imagine ek motiveer dat dit ’n droom was!

Minstens agt weke kon ek help om Sonlanders se Krismis anonymously op te helder.

Ek wou die gunste en gawes met jou deel, sonder enige returns.

Maar die return on investment was daar wel.

Sodra ek in die Kaap land vir werk, kry ek terugvoer op shows of die blog in Son op Sondag.

Dit was dikwels die wegspringplek vir gesprekke. En soos die Son, dink mense ek ken almal :)

Kind of ken, mos. Ek het Oprah twee keer ontmoet en wou dit eerste, eksklusief, met jou deel.

Toe my baba gebore word, wou ek dit eerste met jou deel.

Ek sal, wanneer ons weer meer as 50 mense by ’n troue of begrafnis kan wees, vir jou ’n foto stuur van my trourok.

Die rok is ’n storie op haar eie. Sy hang nog in Die Bruid-boetiek, Diaan Daniels se bruidsalon.

Hart

Oor die jare het jy ook jou binnekamer teenoor my oopgemaak.

Dankie vir die ruimte in jou kop en hart wat jy vir my stem geskep het.

Dankie aan Andy, wyle Melly, Eddie, Neil, Joe, Thomas en al die subs wat altyd so getrou gebly het aan my EIE woorde.

Dit maak nie saak of ek al 31 jaar in die media is nie, ek bly Linny vannie Flêtse.

LYNETTE FRANCIS-PUREN, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters