10 maande gelede
Moenie dié rou klasse in kids se keel af force nie
Foto:  ~ 

WAT ek as tiener van seksuele ontwikkeling en stimulering geweet het, het ek in Mills & Boon se hygromans en Wat Tieners Wil Weet gelees.

My ma, wat ’n verpleegster was, het nooit oor die birds en bees gesels nie uit vrees dat dit “vreemde gedagtes” in my kop sal sit.

Gelukkig was ek een van daai kinders wat hou van lees en het ek nog altyd ’n rype verbeelding gehad. Goed was nog altyd “juicier” in my kop as in die blou movies van destyds.

Ek onthou nog die dag toe Riedwaan en sy pelle by die skool gebunk het om blou movies by die huis te kyk. Die movies was in die dak weggesteek.

Dis die gevaar van versoeking en min kennis. Dit prikkel jou lyf en jou verbeelding, en as jy eers hoor dit is “verbode”, wil jy juis jou vingers en lippe daaraan sit.

Die praatjies doen die ronde dat kinders blootgestel gaan word aan seksuele posisies wat die meeste mense nog net van gelees het. Kama Sutra-posisies, waarvan mense nie eens die woorde kan uitspreek nie.

Leerders word glo gevra om kommentaar te lewer op naakfoto’s wat gebruik word in sexting, moet glo hulle geslagsdele kan identifiseer en weet wat pas waar.

Kyk hoeveel swanger meisies kraam op skool en hoeveel baby daddies is missing in action... Dis van eksperimenteer sonder om die gevolge te begryp.

Nou is daar ook die idee van vroeg ryp, vroeg vrot.

Die voorgestelde veranderinge is glo gemik op leerders van gr. 4 tot gr. 12. Kinders so jonk as nege gaan dié seksvoorligting kry.

Waardes

Ons weet nie alle kinders is emosioneel ryp op nege nie. En hoort seksvoorligting op skool om mee te begin?

Mzansi se werklikheid is dat seksonderrig nie by die huis plaasvind nie. Omtrent 62% van leerders het nie ’n pa wat in hulle lewe teenwoordig is nie.

Waardes en huishoudings verskil, en nie almal word blootgestel aan positiewe seksualiteit nie.

Verder is baie ouers nie gemaklik om met hulle kinders oor hulle seksuele ontwikkeling te praat nie.

Wie noem werklik geslagsdele by name en gebruik nie eufemismes nie?

Inligting bemagtig jou, maar ontwikkeling gebeur nie in ’n vakuum nie.

Watter onnies gaan die klasse aanbied en is hulle opgelei om dit te doen?

Of doen hulle dit slegs omdat hulle ’n vry periode het en hulle ure moet volmaak?

Die South African Muslim­ Network meen dis tyd vir geloofsgroepe om saam te werk en ’n duide­like boodskap aan die regering te stuur: Die mense van Suid-Afrika soek nie die program vir sogenaamde comprehensive sexuality education (CSE) in hulle skole nie.

Finish en klaar!

Die departement van onderwys sê hy wil hê leerders moet die konsepte, inhoud, waardes en gedrag wat met seksualiteit en seksuele gedrag gepaard gaan, beter verstaan sodat hulle van vroeg af gesonde en veilige keuses sal maak.

Getoets

Die departement sien dat leerders al hoe vroeër seksueel aktief raak en eintlik min van die gevare van oordraagbare siektes en MIV weet.

Die CSE-program is glo al sedert 2000 deel van die kurrikulum. Ál verandering is glo die lesplanne wat in 2015 ontwikkel is en tans in vyf provinsies getoets word.

Ek dink nie dié “toetse” het ’n praktiese afdeling soos destyds in die naaldwerk- en houtwerkklas nie.

Toe moes leerders verskillende steke ken en ’n rok maak of die tools in die houtwerkklas gebruik om ’n model te bou. In dié klasse gaan die steke en tools oor bou van kennis, nie uitbou van gesinne nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters