2 maande gelede
Met kop uit die grond bly jy én ander gesond
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

‘EK DRA nie ’n masker nie en ek dra nie onderklere nie, want goed moet asemhaal,” sê die blondekop vol bravade daar vanuit Florida in Amerika.

Dis orrait, sê ek, glo wat jy wil glo. Moet net nie mý gesondheid en veiligheid in die gedrang bring nie.

Daar is Suid-Afrikaners wat die blondekop se sentimente deel. Dis hulle wat ons gemaskerdes as paranoid bestempel en meen ons overreact.

Hulle ignoreer die bordjies by winkels wat maan dat jy ’n masker moet dra wanneer jy die perseel betree.

Ek ken mense wat vir my vertel Covid-19 is soos griep en jy behandel dit soos ’n verkoue. Totdat hulle positief getoets is.

Ek kan nie met sekerheid sê hoe hulle dit gekry het nie. Ek weet nie of hulle dit werklik aangemeld en of hulle contact tracing gedoen het nie.

Ek weet net hulle leef steeds in ’n bubble dat dit nie erger kan raak nie.

Hulle erken wel nou dit is erger as die flu, maar hulle tref steeds nie die nodige voorsorgmaatreëls om ten minste hul geliefdes te beskerm nie.

Daar is ook geen waarborge dat jy dit nie wéér gaan kry nie. Totdat ons ’n teenmiddel het, moet ons leef asof ons dit het.

Stempos

Ek glo diegene wat so gerieflik sê ons ander oorreageer, is nog nie aan ’n ventilator gekoppel met ’n 30%-kans op herstel of oorlewing nie. Ons sal dán weer praat.

Ek stuur vir die ongelowige Thomasse ’n stempos wat dokters en wetenskaplikes se vrese vir die volgende drie weke in ons land verwoord.

Hulle sê dis fake news.

Ek stuur weer ’n link na my Fokus-onderhoud met Shabir Madhi, ’n professor aan Wits wat nou die trials vir die nuwe drug toets.

Dololo reaksie.

Die een sê “die bloed” gaan haar beskerm. Ek zip my lip en skud my kop.

Laat die onaantasbares hulle wysmaak die gevare lê buite hul grense. So asof die Allerhoogste nie weet wat om ons aangaan nie.

“Ek weet nie meer hoe om te bid nie. Die mense gaan heeltyd om my dood.”

Dít is van die vrese van verpleegpersoneel wat self nie kan asemhaal met die lae en lae protective equipment wat hulle moet dra nie.

Daar is skoenbedekkings, twee lae mob caps, twee maskers, twee lae wit-en-blou protective overalls, wit plastiekvoorskoot, handskoene.

“As jy hier klaar is, sweet jy van voor af. Die bril wasem op. Dan nóg ’n plastiekskerm. Alles is nie ‘alhamdulillah’ nie.”

Dis elkeen se keuse of hulle ’n gesigmasker wil dra.

Jy wys dalk nie simptome nie, maar dit beteken nie jy steek nie ander aan nie.

En as jy positief is, weet jy wat jy moet doen?

Oral waar jy gaan, travel die virus met jou. Selfs ná 14 dae van isolasie moet jy ’n opvolgtoets laat doen.

En jy het ’n verantwoordelikheid om mense met wie jy in kontak was te laat weet jy is positief getoets vir Covid-19.

Ek weet van kollegas wat dreigoproepe gekry het en geteister is omdat hulle positief getoets is.

Een pasiënt het haarself aan die brand gesteek, want sy kon dit nie meer vat nie.

Dink aan die nurses en dokters wat hul lewe verloor het omdat hulle ons lewe wou red. Mediese personeel leef in vrees. Ons kan ons deel doen deur by die reëls te hou. Is dit te veel gevra?

Ek herinner my aan ’n oudkollega wat die Maandag siek geword het. Die Woensdag is hy in die hospitaal opgeneem en die Vrydag was hy dood.

Dit gebeur só vinnig...

LYNETTE FRANCIS-PUREN, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters