Verlede maand
Met geld wat jy waar kry, Tito?
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

IN STURVY geselskap sê ons beleefd jy voel ietwat krapperig oor ’n saak.

Innie hood waarsku ek: “Moenie my gat krap nie; dan gaan die vonke spat.”

Dís hoe ek voel oor die mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat die minister van finansies, Tito Mboweni, die afgelope week gedeel het.

Ons voorland is moer toe verhoogde belastings vir die volgende vier jaar.

Ons red die SAL vir die hemel-weet-hoeveelste keer, maar onnies en verpleegsters moet tevrede wees met minder geld en minder verhogings. Hulle wat te midde van Covid-19 in die voorste linie werk, kry stank vir dank.

Die geld en beloofde hulppakkette is gechow en ons moet nou net aanvul soos daai bottomless koppies koffie wat jy by restaurante kan bestel.

Waar gaan die geld vandaan kom?

Meer as 2 miljoen werk­geleenthede lê in die drein.

SARS se inkomste is met miljarde ingekort, want maatskappye sluit en ander vind maniere om hul belasting so saam te stel dat hulle minder hoef te betaal.

Hoeveel werkers het nie reeds ’n aanpassing aan hul salaris gevat nie, want hulle is te dankbaar vir ’n werk?

Vir sekere staatsamptenare het die Covid-19-pandemie ’n all-you-can-eat piggy bank geskep.

Om elke hoek en draai is ons van miljarde besteel en nou moet belastingbetaler die geld terugbetaal. Praat van bloed uit ’n klip tap.

Die president praat oor ’n ekonomiese herstelplan terwyl ons ekonomie al jare aan ’n ventilator gekoppel is.

Daar is dololo geld, maar ons hou aan leen asof môre nooit gaan kom nie.

Die president warra-warra oor 200 000 nuwe poste wat in die onderwyssektor geskep gaan word (volgens sy plan), maar dan bless Tito die SAL met R10,5 miljard om sy vlerkies in die hemel te sprei.

Eers het Mboweni moedig geproklameer dat ons die land se skuld teen 2023 onder beheer gaan kry.

Daardie deuntjie word nie nou meer gesing nie, want waar gaan die geld vandaan kom?

Maar ons kan geld uitkrap vir ’n lugredery wat ons leeg drink – net soos ander staatsbeheerde instellings.

Terapie

Ons gaan volgende jaar ook meer betaal vir ons krag van Eskom af.

Ek wonder of daar iewers kollektiewe terapie vir ’n nasie bestaan wat op elke vlak deur ’n regering mishandel word?

Hulle beloof kos, maar kan nie eens dít vir die armes deliver nie. As ons maar net soos daai ad kan sê: “Chencha dai­deng.”

Pleks van standbeelde oprig teen miljoene rande, wil ons hê ons regering moet huise bou wat nie binne maande intuimel nie. Of hospitale waar ons mense nie in die gange moet slaap nie, want daar is nie genoeg beddens nie.

Bou beter paaie, verseker toegang tot water, energie, behuising vir almal – bou ons land op en hou op om elke druppel hoop vir ’n beter toekoms en gelykheid dood te smoor. Jirretjie, Meneer die President, ons is óp, man!

lag my kla
Lag My Kla Donderdag 5 Oktober by die Suidoosterfees

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters