2 maande gelede
Mense sterf nie meer op ‘eie terms’

DAAR is nie meer woorde nie. Nie trooswoorde, nie sinvolle woorde van medelye of virtuele drukkies oor nie.

Ek is, soos baie, net óp, óp, óp van Covid-19 en hoe ons moet aanpas. Ek sukkel die afgelope jaar om behoorlik te rou oor enige van die 20 mense wat ek ken of wat kennisse was.

Jy steier van die een ná die ander doodstyding; psigies uitgemergel en by tye stom. Want wat sê jy ná die soveelste sterfte?

’n Week gelede kry ek ’n stemboodskap van my vriendin. Sy en haar man het gepraat en wil weet of ek bereid sal wees om een van twee eksekuteurs van hul boedel te wees.

Hulle is by die punt waar hulle gerus wil wees dat hul twee kinders goed grootgemaak gaan word en dat hulle besluite en wense in hul testament uitgevoer sal word.

Dít is waar hulle nou in hul koppe is – as die dood kom. Huiwerig en huilerig sê ek “ja”.

My vriend het verlede maand sy suster verloor, sy pa sowat twee weke gelede en eergister die ander suster – almal aan Covid. Hy en sy seun is ook die afgelope week positief getoets.

Ek is stukkend, hulpeloos, soos ek weet hulle ook is.

Ek het vanjaar aan die nuwe show Kontreikoskokke op SABC 2 begin skiet, maar ek was te ongemaklik om my goeie nuus en opwinding aan die groot klok te hang, want ons gemeenskappe is deurdrenk van smart en hartseer in ons gesinne. My ore mis my eie gelag en ander se geskater as hulle iets snaaks sien.

Selfs nou wil ek daaroor gesels, want dit is ’n soete ontvlugting in dié tyd van verlies, maar dit voel tog so “onvanpas”.

Dis soos om heeltyd te praat oor hoe lekker jy geëet het terwyl jy weet jou buurman ly honger.

Altesaam 17 493 nuwe gevalle eergister. Die hospitale cope nie. Hulle behandel jou óf in jou kar in die parkeerarea, óf stuur jou huis toe, want daar’s nie plek nie.

Ons het dié week met die inenting van onderwysers begin, maar die dokters sê hulle moet besluit wie hulle gaan red al dan nie ...

Ek wil nie hê jou kind, man of vrou of my mense moet die “al dan nie” wees nie.

Trauma

Ons weet die dood is deel van die lewensiklus, maar dit voel by tye asof mense nie op hul “eie terms” kan sterf nie. G’n wonder baie is bang om hospitaal toe te gaan nie.

Jy is bang dis die laaste sien van jou familielid, want met die hoë infeksiekoers is besoeke van die baan.

Ek het al vertel van verpleegsters in trauma en hoësorgeenhede wat dikwels die laaste skakel met die pasiënt en hul mense is.

Die een maak seker sy het genoeg lugtyd sodat hulle daardie laaste oproep kan maak. Dan is die “lugtyd” van die mens ook op ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters