Verlede jaar
Mediese fonds besin oor nuwe planne
Foto:  ~ 

SUID-AFRIKA se Wetsontwerp op die Na­sionale Gesondheidsversekeringsfonds (NGV-fonds) is op 8 Augustus bekend gestel. Die Bonitas Mediese Fonds deel sy voorlopige siening hieroor.

“Ons verwelkom die pogings van die departement van gesondheid in soverre dit daarop gemik is om volhoubare en bekostigbare toegang vir almal tot gesondheidsorgdienste van gehalte te bewerkstellig,” sê Lee Callakoppen, die hoofbeampte van Bonitas.

“Ons neem kennis van die detail wat in die wetsontwerp ingegaan het en ons het dit weer omvattend beskou. As fonds beskou ons dit as ’n positiewe mylpaal, wat debat en samewerking onder alle belanghebbers sal toelaat om die SA gesondheidsorgstelsel te versterk.”

Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel is steeds uiters ongelyk. Wanneer dit as ’n deel van die bruto binnelandse produk uitgedruk word, word nagenoeg dieselfde bedrag spandeer om sowat 16% Suid-Afrikaners met ’n mediese fonds te versorg as vir die ander 84% wat staatmaak op die oorspanne openbare gesondheidstelsel, aldus ’n oorsig van data van die Wêreldgesondheidsorganisasie wat deur die Mapungubwe Instituut vir Strategiese Besinning (Mistra) gepubliseer is.

In werklikheid gebruik baie Suid-Afrikaners ’n kombinasie van die openbare sowel as die private gesondheidsorgsektor. Die aantal mense wat lid van ’n mediese fonds is, is dus nie gelykstaande aan die aantal wat van die private gesondheidsorgsektor gebruik maak nie.

Die teenoorgestelde is ook waar. Sommige lede van mediese skemas gebruik openbare hospitale of kliniese protokolle van die staat vir die behandeling van spesifieke toestande soos tuberkulose.

“Ons het nog altyd die voorneme vir algemene gesondheidsorg gesteun en glo dis in almal se algemene belang – en nie net vir die 16% van die bevolking wat lid van ’n mediese skema is nie,” sê hy.

Callakoppen benadruk die punt dat “vir die NGV-fonds om te slaag, is samewerking tussen mediese skemas en die regering van kardinale belang. Daar is talle aspekte om te oorweeg wanneer dit by die wetsontwerp kom, maar die belangrikste en sentraal tot alles is die impak op sy gebruikers – Suid-Afrikaners.

“Ons merk dat die wetsontwerp ’n oorgangsreëling bevat. Dit kan as iets positiefs beskou word omdat die instel van die NGV nie oornag sal gebeur nie. Daar is nog baie werk nodig. Dit begin met die proses om belanghebbers betrokke te kry en met debat as ons aan die implementering van algemene gesondheidsorg wil werk in lyn met ons Grondwet.

“Dis belangrik vir alle belanghebbers, insluitend die burgerlike samelewing, om aktief aan dié prosesse deel te neem om ’n regverdige, deelnemende en deursigtige proses te verseker wat tot ’n redelike NGV-wetsontwerp sal lei wat ’n volhoubare, werkbare en stabiele gesondheidsorgbedryf van gehalte sal verseker.”

Bonitas evalueer tans die volledige wetsontwerp op die NGV-fonds en sal voortgaan om insig en kommentaar te lewer om seker te maak Suid-Afrikaners se toegang tot gesondheidsorg word verbeter.

  • Bonitas (geadministreer deur Medscheme Holdings) is die tweede grootste oop mediese skema in Suid-Afrika.

Son op Sondag nooi jou, die leser, om oor enige kwessie jou mening te lug. Organisasies is ook welkom om ’n bydrae te lewer. Skryf by nuus@kaapseson.com aan Son op Sondag: Maak Jou Stem Dik. Son op Sondag behou hom die reg voor om skrywes te redigeer en nie dié te plaas wat lasterlik is of enige vorm van diskriminasie aanraak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters