9 maande gelede
Liefdevolle huis het nie altyd ’n ma en ’n pa nie
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

OUERS is ouers. Slegte ouers is slegte ouers en goeie ouers is goeie ouers – en dit het niks te doen met hoe hulle lyk, wat hulle sosiale status en geloofsoortuigings is of wie hulle liefhet nie.

Maar sê dit nou vir die hoogheiliges en skynheiliges wat glo hulle bewandel die aarde sonder sonde.

Mense wat steeds glo gay ouers kan nie “goeie ouers” wees nie of stuur kinders die afgrond in, dra definitief nie die beste belang van kinders op die hart nie.

Kyk net na die hofsake in ons Suid-Afrikaanse howe. Lees hoe ouers en familielede hulle eie vlees en bloed abuse, verniel en vermoor, dan praat ons weer oor wat ’n “goeie” ouer maak.

Daar is tans groot kommer in Amerika oor die regte van LGBTQ paartjies om kinders aan te neem of pleegouers te wees, en die grondslag waarop daar teen hulle gediskrimineer word.

Organisasies wat deur belastingbetalers befonds word, gebruik glo bestaande wetgewing om teen sulke ouers te diskrimineer.

Hulle weier dat LGBTQ’s as potensiële ouers oorweeg word op grond van hulle geloofsoortuigings of seksuele voorkeure.

Die aanname word gemaak dat jy nie in God kan glo, ’n gelowige kan wees én in ’n gay-verhouding kan wees nie. Asof gay persone eendimensionele wesens is wat net aan hulle carnal cravings dink. Pfft.

In 2017 was daar byna 443 000 kinders en jong mense in Amerika se aanneemproses.

Sowat 123 000 het gewag om aanneming – die meeste van hulle het gewoon in gemarginaliseerde en kwesbare gemeenskappe.

Verdoesel

Natuurlik moet enige potensiële ouer gescreen word as hulle pleegsorg en aanneming oorweeg.

Dit is belangrik dat enige kind in ’n veilige en geborge huis geplaas word.

Jy moenie teen ’n persoon diskrimineer net omdat hulle in ’n same-sex huwelik is nie. (Bygesê, as “wetgewing” hulle huwelik erken en bekragtig.)

Die doel moet immers altyd die beste belang van die kind wees.

Die “beste belang” van die kind raak ’n toffie in ons SA howe. Dit word dikwels gebruik om vooroordele, ongeregtighede en diskriminasie te verdoesel.

LGBTQ paartjies plaaslik getuig dikwels van nagmerrie-ervarings om kinders in SA aan te neem of pleegouers te wees.

Dis óf ’n surrogaat kry óf privaat aannemings ten duurste aangaan net om ouers te wees.

Twee politieke leiers wat hulle beywer vir gelyke regte vir LGBTQ families in die Amerikaanse koukus, is Sean Patrick Maloney en Angie Craig.

Hulle vra in hulle Every Child Deserves a Family Act dat die huidige Trump-administrasie of enige agentskappe wat federale befondsing van die staat ontvang, nie teen mense moet diskrimineer op grond van hulle oriëntasie, hoe hulle as ’n gender identifiseer, hulle geloof of hulle huwelik­status nie.

Maloney het drie kinders en is in ’n gay-huwelik. Baie van my (gay) pelle is ongelooflike ouers wat die wêreld sal omkeer vir hulle kinders se behoud.

Ek het by baie van hulle gaan aanklop toe ek swanger was en vra gereeld uit oor ouerskapstyle of hoe hulle pa- en ma-wees navigeer.

Ons moet nog so baie doen om mense op te voed en hulle mindset te verander.

Dit is uitputtend om mense steeds te moet leer dat die konstruksie van families en die “liefde” nie net een dimensie of skakering het nie.

Ons het al myle verbybeweeg van die drie beertjies se mamma- en pappa-beer.

Die wolf in skaapklere bly soms binne ons, in ons huis en vel en nie daar ver by die bose geeste nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters