27 dae gelede
Geen lig in Eskom se tonnel
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

EK HET genuine nie meer krag vir Eskom nie.

As ’n mens ’n siviele eis vir emosionele skade en trauma kon instel, dan het duisende van ons hulle seker al hof toe gesleep, maar hulle is as aan.

Verlede Sondag het ons roetine-onderhoud gehad. Woensdag 09:00 slaan die krag af, want daar is glo twee foutiewe kabels. Die krag was eers 20:20 die Donderdagaand weer aan.

Ek is so dik van ontleders wat vertel dat ons tariewe steeds baie laag is vergeleke met wat ander mense elders in die wêreld betaal.

Ek willie wiet van die res van die wêreld nie. Ek wil dit hiér kan bekostig om die ligte aan te hou.

Ek is bitterbek op elke level oor die tariefverhogings, maar probeer my pose hou, want ek is after all ’n professional. Maar dis erg, julle, en dié Eskom is nog ver van klaar met sy wurggreep.

Ek het dié week met André de Ruyter, Eskom se bestuurshoof, gepraat en hy het te kenne gegee ons moet ons klaarmaak vir ’n dubbelsyfer-verhoging volgende jaar.

’n Joernalis van ’n Sondagkoerant het in ’n Fokus-onderhoud vir my gesê Eskom gaan Nersa vir ’n verhoging van tussen 12% en 20% vra!

Ek moet maar die primus of gas nadertrek, want só kan dit nie aangaan nie.

Net die ander dag was daar ’n ontploffing by Medupi wat twee jaar en miljarde rande gaan kos om te herstel.

Dae gelede was daar ’n brand by die Kendal-kragstasie wat eenhede lamlê en twee ander laat trip. Drie dae gelede hou ’n gemeenskap van Mabopane noord van Pretoria toe mos nege Eskom-werkers gevange, want die mense is óp.

Op Twitter sien ek ’n suster skryf sy moet R500 betaal vir 151 eenhede en sy kan dit nie meer vat nie.

Ek gaan liefs nie sê hoe gereeld ek gal braak nie.

Nee, kykie, hy is ’n charming man en sag op die oog, maar dit versoet nie die bitterheid in my gemoed nie.

Ek vra André uit oor die betalingsooreenkomste wat in plek is met die verskillende munisipaliteite. Dit is nóg ’n modderpoel waarin ons verdrink. Imagine jy betaal getrou jou munisipale rekening, maar daar is bokkerol service delivery.

Eskom het 20 ooreenkomste in plek, maar net een – ja, net één – betaal getrou sy deel. Maar laat óns nou net daai try! Pfft!

Hy sê polities-korrek hulle het hul personeel met 4 500 werkers verminder. Dis nou mense wat ondersoek is vir korrupsie. Hulle het nou aansoek gedoen dat kontrakte wat na bewering gekoppel kan word aan die senior bestuurder Petrus Shaka Mazibuko, hersien en tersyde gestel word. Mazibuko het glo “sweetener” by kontrakteurs en diensverskaffers gekry vir gunslone.

Volgens André is daar nie politieke inmenging by Eskom nie, maar ek sluk swaar hieraan. Dis dan ’n staatsinstelling! Gaan hulle nou rêrig net handjies gevou sit?

Hulle wil dan nou juis ’n nuwe beleggingsmaatskappy stig om Eskom, Transnet en ander SOE’s te manage.

Vir Xmas moet jou pelle maar vir jou kerse geskenk gee, want dit is moer toe donker vorentoe…

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters