11 maande gelede
Dit bly nie by tug – vel word van been getrek
lyfstraf
Foto ter illustrasie  ~ 

MY MA se wapen van keuse was ’n nat vadoek, ’n kam, haar pantoffel of die vlieëplak. My pa het sy belt gegryp.

Soos in die meeste ouerhuise van dié tyd was my ouers aanklaer, regter, jury en punisher – jy het nie ’n sê nie. En as jy so baie pak gekry het, dan is jou voorneme om eendag wanneer jy kinders het, anders op te tree. En dan doen jy.

Voor die konstitusionele hof se uitspraak dié week het my ma my herhaaldelik ingelig sy dink my dogtertjie kort net ’n pak sodat sy kan skrik.

Ek dink nie my kind is stout nie; inteendeel sy eksperimenteer met elke ding en probeer die grense verskuif en sy weet wanneer sy kattekwaad aanvang.

Soos nou die ander dag kom sy by die huis met swart geverfde naels en glitter all over, kompleet soos Shimmer and Shine-karakters oppie TV.

Toe ek vra waar dit vandaan kom, sak sy af sy het vir die juffrou gesê wat die reëls is en dat haar ma nie baie hêppie gaan wees nie.

In die kar begin die vierjarige brein vreeslik emosioneel voorspellings maak oor haar straf.

Dit wissel van “being grounded for life” tot “staan in ’n hoekie” totdat sy flou word.

President

Ja, sy was so dramaties. Waar sy aan die strawwe kom, sal net sy weet, want sy het nog nooit ’n pak slae gekry of in ’n hoekie gestaan nie.

Sy kon nie met ’n voorstel vir gepaste straf kom nie. Sy het geen elektronika vir die res van die week gekry nie (vier dae) en sy kon ook nie haarsalon toe gaan nie.

Die president is tevrede met die konstitusionele hof se uitspraak dat lyfstraf in die ouerhuis ongrondwetlik is. Kort daarna sien ek die volgende meme op Facebook:” This new law doesn’t affect us. We mos don’t spank, hie’ moer o’s!”

En dit is waar die probleem kom. Dit bly nie by tugtig nie, maar grens aan mishandeling.

Ons soek nie alternatiewe strawwe nie, ons wil die vel van die been af trek.

Die geskrifte en profete kom uit. Van “train a child in the way he should go” tot “buig die boompie” om lyfstraf te regverdig.

Mense wil nie vertel word hoe hulle hulle kinders in hulle huis moet grootmaak nie. Daar is nóg ’n meme wat wys hoe ’n peuter met ’n rugsakkie en tassie weg van haar ma stap. Dié sê: “Ja, gaan slaap daar by die Constitutional Court.”

Maar ons weet al lank van die tweespalt oor lyfstraf. Die organisasie Freedom of Religion South Africa het hom destyds tot die hof gewend om ’n vroeëre hofbeslissing om te keer dat kinders se regte geskend word as jy hulle slaan.

Kinderregtekenners het destyds aangevoer kinders wat lyfstraf kry, ontwikkel angsversteurings. Hulle is ook geneig om gewelddadig op te tree.

Maar die slanery het voortgegaan ten spyte van die wet. In April vanjaar was daar reeds talle voorvalle by skole waar onnies hulle mag oorskry het.

Die skoolhoof van ’n Moslemskool in Mpumalanga het in die landdroshof verskyn op ’n klag van aanranding nadat hy na bewering lyfstraf toegepas het op ’n 10-jarige seun. Hy het hom so gemoker dat die kind met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem is. Die hoof het hom glo met ’n tuinslang geslaan.

Wette is wette. Ek weet nie hoe die toepassing gaan werk nie. As hulle nie eens geweld en verkragting teen vroue en kinders binne die familiekring kan opvolg nie, hoe gaan ons lyfstraf monitor?

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters