Verlede maand
Die regering is net ’n bek
Lynett Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

AS KORRUPSIE ’n virus was, was baie prominente ANC-leiers luidens onlangse berigte besmet.

Ons het gedink dit was net stelery van kospakkies en beskermingstoerusting, maar dis miljarde rande se kontrakte en tenders aan Covid-19-preneurs wat sommer so met die inperking voorkeur-procurement vir staatswerk gekry het.

Die meeste van hulle is nou die dag geregistreer en skryf hul invoices sommer met die hand uit in daai boekies wat jy by CNA koop.

Daar is nie nog tyd vir fênsie letterheads nie; solank daar net ses nulle by die bedrag gevoeg word, is jy sorted.

Dis mos ’n done deal.

As stelery ’n siekte was, was sekere ministers en hul tjinners in hoësorg-units.

Intergenerasie-siekte is mos in die bloed, sê die ou mense.

Vroom

Dit laat ’n mens opnuut wonder oor die geldigheid van sekere inperkingsmaatreëls van drank en entjies: Wie baat die meeste daarby?

So diep vroom sê die ANC dié week hoe ontstoke en verleë hy is oor sy eie com­rades wat so met vuil vingers betrap is.

Halliha! Dis mossie ’n revelation nie!

Die Zondo-kommissie van ondersoek sit dan juis oor staatskaping en verrotting binne ANC-geledere.

Die ANC bied net lippediens.

Ons weet lankal die keiser is kaal, maar deesdae paradeer hulle left, right en centre in Zoom meetings en op perskonferensies en begrafnisse.

Hulle sê een ding, maar doen ’n ander ding. Of dololo.

Kyk hoe het hulle uitgehaak en entjies gelight sommer so binne rookafstand van mekaar op stalwart Andrew Mlangeni se begrafnis.

Maar óns mag nie meer as 50 mense by ’n begrafnis wees nie ...

Die prez praat sy mond warm oor social distancing, maar dan juig die comrades by after-tears-dienste.

Navorsers meen sowat 3 miljoen mense het hul werk sedert inperking verloor en 2 miljoen van hulle is vroue.

Maar kyk uit vir die speeches dié naweek oor hoe ernstig die regering is oor gender-based violence, femicide en warra-warra-warra ...

Hulle abuse ons eintlik jaar ná jaar.

Stem

Maak beloftes van hulp en optrede, maar hulle is soos daai boyfriend wat die Here aanroep as getuie dat hy jou nooit weer sal slaan nie. Hy gaan verander, jy moet net die saak terugtrek.

Vir dié politieke party is dit sweet talk solank jy net weer vir hom stem. And the beat(ing) goes on ...

Hier sit ons nou.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se entourage is in die land en doen inspeksies oor ons hantering van die pandemie, want almal sweer hoog en laag die piek is verby; ons word minder siek en die sterftesyfer is af.

Kaantie sien ek daagliks drie of vier begrafnisstoete op pad Wespark toe.

Intussen leen die regering nog geld wat hy nie kan bekostig nie, parlementslede willie ’n pay cut vat nie en die nasie bedryf sy side hus­tles, want hy moet aan die lewe bly. #WatseCovid-19?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters