25 dae gelede
Die president het ook geboeka
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

DIE president het lekker met ons Moslem-gemeen­skap in die Kaap geboeka.

Ek wonder of hy barakat gevat het? Wat was sy doah?

Dalk dat hy sy New Dawn aan die einde van sy termyn kan skep terwyl ons vir die sighting van die nuwemaan wag om Labarang te vier.

Of dalk was dit gebede van danksegging om weer asem te haal, want sommige korrupte ANC-amptenare begin nou stadig maar seker skuimbekke en voetslepery opsy te sit.

Jinne, maar hulle is traag. En hulle klou!

Pleks van opsystaan en jou pak slae soos ’n man vat, probeer hulle allerhande truuks om die mond om nog net ’n rukkie langer by die staatskrane te bly.

Boelies

As ék die sekretaris-generaal van die ANC was, het ek lankal my twiet gestuur. “Mr President, you aced me.”

Maar nee, Mnr. 10% kry ’n attitude.

Ace Magashule is soos daai boelies op die rugbyveld wat jou in die skrum dik tik.

As jy hom dan tackle, gaan kla hy by die ref oor ’n hoogvat, ’n laagvat en dat jy hom vir ’n gat vat.

Voordat die penalty toegestaan word, gaan kla hy weer ’n keer oor vuilspel.

Daar gaan skors Maga­shule sommer die sittende president nog voordat hulle hom die deur wys.

’n Wafferse oog-vir-’n-oog- en-tand-vir-’n-tand-benadering van magsvertoon.

Hy het nie die magtiging of die mandaat om vir die president te skryf dat hy opsy moet staan nie.

Die market worry, die land worry en al die beleggers worry oor die politics wat die land se groei en beleid tans oorskadu.

Jy moet die skrif aan die muur sien as hulle jou by ’n virtuele vergadering uitskop, my bra!

Dit is nou vir jou ghosting op ’n hoër graad.

Die ANC mute hom sommer self, want hy en Bongo wil dan nou nie loop nie. #ByeFelicia.

Nou sit en wag die president vir ’n verskoning soos ons vir daardie Covid-entstof wag.

Wanne’ dan?

Nagekom

Jessie Duarte sê Ace se apology is belangrik om stabiliteit binne die party te bring en die internasionale leiers gerus te stel dat die president nie die joker is nie. Hy het die kaarte ferm in sy hand, Ace of te not.

Baie beleggers voel dat die president nog nie sy beloftes aan Nasrec nagekom het nie.

Hy is in die regte baan op pad na hervorming, maar hy beweeg teen die spoed van ’n tuk-tuk.

Die ANC verloor al hoe meer wettigheid, skryf die politieke ontleder Ebrahim Harvey.

Hy meen die huidige ANC het geloofwaardigheid verloor.

In The Great Pretenders, Harvey se boek wat ek nou lees, wys hy hoe die party misluk het om ras- en klas-gapings te vernou.

Hy dink swart mense is nou erger af as in die tyd van apartheid.

Tik-tok-tik-tok, Ace maak amok.

Is Cyril se New Dawn al lankal ’n flop?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters