10 maande gelede
Dié dae van aktivisme is ’n joke
 ~ 

HIERDIE 16 dae van aktivisme in November en Desember het ’n joke geword.

Op dag 1 is ’n 42-jarige ma van die Oos-Kaap en haar vyf kinders vermoor – vermoedelik deur die pa.

Die lykies van die slagoffers – die jongste is net ses maande oud – is almal in hul huis gevind en die pa is skoonveld.

Maar hoekom is ons nog geskok?

Jaar ná jaar word beloftes gemaak van swaarder vonnisse, strenger optrede en wysigings aan bestaande wetgewing, maar dololo ingrypende veranderinge.

Ons is goed met bek verkoop oor hoe ons vroue wil bemagtig en in die belang van kinders optree; kantie vloei die bloed in die strate en slote.

Besit

Ons liggame is die slagvelde. Onveilig by die huis, by die skool, by die kerk, in die kar, by die gym, in die poskantoor, by die movies, by die hairdresser, in die hospitaal. Die hemele weet daar is geen skuilplek nie.

Daar is mans wat dink hulle besit ons geld, ons lyf, ons salaris, ons pensioen, ons kar en ons kinders, en hulle behandel ons soos hul eiendom.

Hulle kap ons lyf soos maalvleis op, gooi ons in slote, maak brandstapels van ons oorskot, vermink, versmoor, vernietig ons sodat ons vir ons geliefdes net ’n memory is.

Die meeste van die tyd is dit ons intieme maat wat gesweer het hy sal nooit ’n haartjie op ons hoof seermaak nie. Ja, right!

Ek hoef jou nie met statistieke te oortuig as jy dit aan jou lyf voel nie.

Ek lees ’n briefie van ’n leerder wat sê sy word groot met haat in haar hart vir mans.

Al wat sy van kindsbeen af ken, is haar ma wat vlug – vlees, been en siel aan skerwe – en waar die hospitaal hulle almal al op hul voorname ken.

Sy vertel hoe sy nag ná nag droom haar stiefpa sny haar op in stukkies ….

Ek voel uitgelewer. Ek is ’n vrou.

Ek bly in Suid-Afrika, die rape capital of the world.

Ek sien hoe mans vroue verniel.

Vroue is vreesbevange. Wat gaan van ons word, abafazi?

Vanjaar vra ons regering ons om nie ons rug op slag­offers te draai nie.

Moenie anderpad kyk nie, pleit hulle.

Ons moet betrokke raak en mekaar ekonomies bemagtig sodat ons onafhank­liker kan raak.

Die minister van polisie, Bheki Cele, sê in die eerste drie maande van die inperking was daar ongeveer 8 000 voorvalle van geweld en onsedelike aanranding.

Dit is net die gevalle wat aangemeld is.

Afskrikmiddel

Gaan maak op ’n Maandagoggend by ’n hof ’n draai en kyk om jou na die talle vroue wat pimpel en pers geslaan is en wat op daardie harde banke sit en wag om ’n hofbevel te kry.

’n Stukkie papier as ’n afskrikmiddel om ’n pak slae of verkragting vry te spring.

Gaan vra dieselfde vroue of daai stukke papier haar ál die vorige kere gered het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters