10 maande gelede
Deur die sleg was dít goed
Lynette Francis-Puren  ~ Foto Verskaf

AS JY hier lees, het jy moontlik die afgelope jaar ’n geliefde aan die dood afgestaan.

Of jy ken iemand wat weens Covid-19-komplikasies gesterf het. Of jy het herstel van ’n matige Covid-19-infeksie. Of jy is op jou knieë, biddend vir iemand wat in intensiewe sorg lê en wag vir ’n wonderwerk.

Ons is voos, ja. Ons is depressed, ja.

By tye in die fetus-posisie en ons huil ons oë uit.

Feit is: Dit gaan nie die persoon, job of wat ook al verloor is terugbring nie.

Terwyl ek hier skryf, het ek al sewe vriende aan die dood afgestaan.

Een familievriend word Maandag begrawe, ’n ander een lê in ’n koma, twee lê in die bed met Covid-19 en ’n ander is blind gelaat nadat hulle positief getoets is en toe ’n beroerte gekry het.

Ek worry saam met my vriende in China oor hul pa se herstel (glad nie Covid-19-verwant nie).

Maar dis op en af: dan op die ventilator, dan af.

Nou moet hy leer om van nuuts af te begin.

Ek rou saam met ’n Facebook-vriend wat binne ’n week albei sy ouers verloor het.

As jy vandag so voor Krismis ’n hartaanval of beroerte kry, sal jy moontlik nie ’n hospitaalbed kry nie – met of sonder jou mediese fonds.

Net weens Covid-19 is daar meer as 2 600 mense in die hospitaal. Daar is nie genoeg suurstoftenks of ventilators om jou te help asemhaal nie.

Nou deal ons boonop met ’n variant van Covid-19 – een wat mense teen ’n stink spoed besmet.

Maar fes­tive wil ons hou …

The New York Times het hul lesers die afgelope week gevra om een ligpunt te noem van 2020. Hier’s my enkeles:

  • Ek het ’n groentetuin begin.
  • Ons het die lewe teen ’n stadiger pas begin leef en baie het Zoom ontdek.
  • Ons het gesien hoe die natuur herstel en voetpaadjies beginne toegroei.
  • Ons het geleer waarsonder ons wel kan klaarkom.
  • Ek het besef ek is nogal ’n goeie leermeester en was elke dag my kind se onnie.
  • Die meer as 200 sight words wat sy geleer het, het haar in staat gestel om haar eie boeke te lees.
  • Ek was daar om hierdie vordering eerstehands te ervaar.
  • Ek het getrou en danksy die inperking was ek en my man sewe maande op wittebrood (by die huis).

Hier op die vooraand van Kersdag is dit ’n somber tyd, maar dit hoef nie ons laaste Kersfees saam met ’n geliefde te wees nie.

Ons kan afskaal, ons kan minder kook, ons kan die kerkdiens skip, ons kan vir ons eie behoud in ’n ander se skoene gaan staan.

Ons kan ons masker gereeld dra, hande was en ’n sosiale afstand hou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters