2 maande gelede
Cyril en sy regering uit voeling
 ~ 

DIE meeste van ons is lankal verby gatvol.

As oom Cyril nog één keer moet sê hoe shocked hy is oor wat in ons land gebeur, gaan ek kleintjies kry. Genuine!

Hy en sy hele kabinet is so uit voeling met life in Mzansi dat hulle mildelik na Madiba quotes gryp om ons te troos. Ons soek werkbare oplossings en ’n toekoms waarin ons kan glo, maar hulle voer ons quotes.

Die regering kan nie die mood van die land en sy mense lees nie. Hulle fight so onder mekaar vir poste en mag, maar dit is ons wat bly suffer.

Groeiende werkloosheid, infrastruktuur wat inmekaarval, honderde plannetjies waarmee hulle smous, maar dololo aksie. Maar gee ons nog ’n quote, man... Of as ek aanjaag, suspend my met full pay en ek kry iemand anders om my gravy train te olie met ’n tender.

Plundery

Die chaos het al laas naweek uitgebars. Nou is dit al Vrydag. Moenie glo dat dit net oor Zuma gaan nie.

Daar het Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, erken hulle het inligting dat Zuma-gesindes in die ANC en sekuriteitsgroeperings die meesterbreine agter die geweld en plundery is.

Daar is mense wat ons land onregeerbaar wil maak, want dan kan hulle nog meer skep.

Dis te verstane dat burgers angstig en vreesbevange is. Ons sien die beelde op TV en maak die afleiding dat ons regering nie in beheer is nie.

Hulle stuur die weermag in om die polisie by te staan om dit te laat lyk asof daar beheer en orde is.

Ongelukkig is dit nie genoeg nie. Die kruitvat van wanorde en wanhoop skiet al jare vonkies.

Dit voel asof alles tot niet gaan. Jy sal so voel as jou winkel of kar uitgebrand is, of jy kan nie ’n taxi werk toe kry nie, want alles brand in die middestad. Jy slaap nie, want jy moet patrolleer en jou mense beveilig.

Charles, ’n luisteraar in Durban, skryf hulle is aangeraai om klere, paspoorte en kos in ’n kar te pak, ingeval hulle moet vlug. Twee stelle vriende van hom is deur ’n privaat helikopter opgepik en na veiligheid geneem.

Apteke

“Tensy jy hier woon, het jy geen idee van die vrees en ongeloof wat ons ervaar nie. Ons, die gewone mense, is abandoned en elke vlak van regering het ons gefaal,” skryf Charles.

Apteke is afgebrand en stoorplekke is geplunder en tot niet. Sommige banke en winkels het hul takke gesluit.

Selfs spaza shops in die informele nedersettings is kaal gesteel. Sassa het vroeg dié week laat weet daar sal nie uitbetalings in sommige gebiede wees nie, want die afleweringsdienste of sekuriteitsmaatskappye is nie bereid om in te gaan en die diens te verskaf nie.

Hier in Gauteng sukkel ek om long life-melk, meel en vleis te koop, want die trokke wat na Gauteng en ander provinsies moet aflewer, is gestrand of verwoes.

Dalk sal die weermag ’n konvooi skep wat dié lorries kan vergesel? Maybe nog ’n “nuwe plan”? Whatever. #CryTheBelovedCountry

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters