6 maande gelede
Corona roulette oor ons nog nie antwoorde het nie
Foto:  ~ 

EK KRY Vrydagoggend laat ’n e-pos van ’n luisteraar wat sy pa aanhaal.

“It’s easy to be wise after the event!” skryf Willie in die e-pos.

Dit is hoe dit beginne voel wanneer jy terugkyk oor die afgelope 50 plus dae van inperking en besluitneming in ons land.

Die president het self die afgelope week in sy toespraak op televisie erken dat hulle foute gemaak het.

Ja, ons verstaan dit is ongekende Covid-19-waters, maar daar moet tog ’n mate van sinvolheid in jou besluite wees. Byvoorbeeld: Hoekom kan ons nie in die winter ooptoonskoene dra nie?

Sommige mense se voete swel, en stewels werk net nie vir hul dik enkels nie.

En wat weet min. Ebrahim Patel nou eintlik van cropped pants? Weet hy dan nie dat jy dit met tights en knee-high boots kan dra en steeds on fleek kan lyk nie?

Wat sê die ouer mense van hindsight wat die beste leermeester is?

Maar ons is nie hier om politieke punte te score nie. (Altans, ons hoop nie so nie.) Hierdie krisis is ’n saak van lewe en dood.

Die afgelope twee weke praat ek met vooraanstaande leiers oor die “sinvolheid” en legitimiteit van sommige besluite wat in die Staatskoerant gepubliseer is oor ons inperking.

Swartmark

Prof. Thuli Madonsela, voorheen ons openbare beskermer, probeer soos ons binne ’n regskonteks verstaan waar die bevelraad sy mandaat vandaan kry.

Onthou nou: Die regering verloor miljoene in aksyns­belasting omdat hy sigarette en drank inperk. Dit is grootliks die rede dat die swartmark floreer.

Imagine, R300 vir ’n pakkie van 20? Is hulle dan, uhm, kêns?

Môre hoor ons hopelik finaal van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, oor wanneer hulle die skole wil heropen.

Ons wag al twee weke vir ’n press conference. Elke keer word dit uitgestel.

As jy die vakbonde glo en van die onnies wat die afgelope week by skole aangemeld het, is daar nog dololo aflewering van ontsmettingsmiddels en gesigsmaskers.

Die skole moet mos in fases volgens die grade heropen.

Prof. Jonathan Jansen, tans uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch, sê prontuit op Fokus as hy skoolgaande kinders gehad het, sou hy hulle glad nie teruggestuur het skool toe nie.

Daar is volgens hom nog te veel variables en onsekerhede.

As die departement nie eens handboeke betyds vir die skooljaar kan voorsien nie, hoe gaan hy dié krisis bestuur?

Aanvanklik was die redenasie dat kinders minder vatbaar is vir Covid-19, maar die afgelope week het drie kinders in New York gesterf.

Dan praat ons nie eens van die kinders wat by hul ouers, oupas en oumas bly en asimptomaties is en hulle kan aansteek nie.

Wat as ’n kind by die skool siek raak en sterf (behoede ons). Wie gaan dan verantwoordelik gehou word vir daardie besluite?

Die meeste pasiënte sterf alleen en sonder hul familie, wat nie vir oulaas met hulle kan praat, vir hulle bid of by hulle waak nie.

Dis ’n groter tragedie as jy nooit die kans het om behoorlik afskeid te neem nie.

Soos Willie skryf, dis makliker om ná die geleentheid slimjan te speel. Spyt kom te laat.

Is die terug-skool-toe-kwessie dalk die keerpunt, waar ouers se “eie oordeel” gaan tel en nie die waarborge en platitudes van ministers, presidente of skoolhoofde nie?

Hoe leef jy met jouself saam as iets met jou kind gebeur, en jy kan nie die tyd of besluit omkeer nie?

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters