2 maande gelede
Verwyder rassisme uit skole
Ernest Loth  ~ Foto Verskaf

DAT daar sonder twyfel steeds ongelykhede in die onderwys bestaan, staan soos ’n sponsor billboard op ’n skool se jaart.

’n Mens kan dit nie wegredeneer nie, want die olifant sal altyd in die klaskamer bly: Dat blatante diskriminasie steeds in sekere skole aan die orde van die dag is.

Laas jaar se berig in Son oor die rassisme by die Hoërskool Brackenfell was nogal ontstellend ná 26 jaar van demokrasie in die land. Ek wil weet waar kom die “nuwe era”-kinders aan die wrokkige gevoelens wat hulle teenoor gekleurde medeleerders openbaar? Nêrens anders as ouers wat blatante aanmerkings rondom ontbyttafels braaivleisvure of voor TV-stelle maak nie.

Geen kind word met haat en nyd gebore nie. Dit word daar geplant deur voorbeelde wat ouers stel!

Waarom ouers nog hul kinders na die “grys” skole stuur om so gehumiliate te word, gaan my verstand te bowe. Omdat die meeste van hulle onder die indruk verkeer dat hul bloedjies daarso die beste geleer word. Behalwe vir die omstandighede waaronder opvoeders in bevoordeelde skole onderrig en dat hulle meer hulpmiddels binne hul bereik het, is dit geen waarborg dat bruin of swart leerders die beste onderrig dáár kry nie.

Bruin opvoeders doen onderrig onder die haglikste omstandighede, want die skole is sommer in bendegeteisterde areas opgerig. En tog... tog presteer leerders ook in dié sogenaamde sekondêre skole!

Nóg ’n ding wat onmiddellik reggestel moet word sodat daardie rassistiese leerders op skole se monde gesnoer kan word, is dat die benaming “sêkondêr” moet verdwyn, soos die koloniale standbeelde en straatname en terme, en alle hoërskole bloot as “hoërskole”­ bekend moet staan. Dit sal sorg dat leerders in die bevoorregte skole nie meer neerkyk op leerders wat skoolgaan by die teruggehoude skole nie.

Laasgenoemde leerders sal dan ook voel hulle is volwaardige leerders.

Selfs sommige opvoeders van die bevoorregte skole sal ook minder neusoptrekkerig wees teenoor hul kollegas van die “sekondêre” skole.

Solank daar nog ’n onderskeid getref word tussen die benamings van skole, sal rassisme daarop teer. Sekondêr beteken tweedehands, tweede beste en minderwaardig.

Hoekom moet dié etiket steeds aan bruin skole kleef?

Die minister van onderwys sal drasties ’n tree in die regte rigting ten opsigte van die benaming moet gee!

Dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel…

Die ander sensitiewe punt is die feit dat sommige opvoeders (en hoofde) nog die vermetelheid het om neerhalende rassistiese opmerkings teenoor leerders en aspirantonderwysers kwyt te raak om hul selfbeeld af te kraak!

Verwyder hulle asseblief uit die onderwysstelsel, want hulle is die doring in die vlees van toekomstige leiers en moontlike opvoeders.

Die pandemie het ons almal kom gelykmaak, maar sommige wil nie leer uit die les wat vir ons almal ’n spieël was en steeds is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters