Verlede jaar
Te veel klou kan jou knou
Foto:  ~ 

AS DAAR iemand is wat nog nie ’n teleurstelling of twee beleef het nie, is jy uniek, want niemand is van teleurstellings kwytgeskeld nie.

Die een of ander tyd gaan jy teleurstellings beleef. Dis onvermydelik, soos die dood.

Dit maak nie saak hoe groot jou geloof of watter goeie mens jy is nie, die een of ander tyd gaan iemand (of iets) jou geloof tot in sy kern skud.

Dit gaan dalk iets minder ernstigs wees, soos die misloop van ’n pos waarna jy uitgesien het of die afkeur van ’n bankleningsaansoek vir ’n huis wat jy dolgraag wou koop.

Dit kan egter iets ernstigs ook wees, soos ’n huwelik wat skeefloop, die dood van ’n geliefde, ’n ongeneeslike siekte of ’n getroue vriend wat jou in die rug steek deur jou diepste geheime aan die wêreld te verklap.

Dit kan selfs ’n ouer wees wat hom of haar, ironies genoeg, weens ’n teleurstelling aan drank of dwelms vergryp, wat net opgee en die pad totaal byster raak.

Wat dit ook al mag wees, daardie teleurstelling het die vermoë om van ons te laat ontspoor en ons geloof te verongeluk.

Dis waarom dit belangrik is dat ons vooraf besef ons gaan teleurstelling ervaar.

Maar ons moet leer dat dit ons nie onkant moet vang of van stryk moet bring nie. Ons moet vooraf weet hoe om teleurstellings te hanteer.

Indien verpletterende teleurstellings die een kant van die muntstuk is, is die ander kant dikwels om die verlede te laat vaar, veral as jy in jouself teleurgesteld is.

Wanneer jy iets verkeerds gedoen het, moenie daaroor peins en daaraan vasklou en jouself martel nie. Ja, erken dit, dit is nou so, jy het dit gedoen, vra vergifnis en gaan aan met jou lewe.

Raak ontslae van jou flaters en mislukkings, jou seer, pyn en sonde.

Onreg

Nietemin, die teleurstellings wat ons die seerste maak, is sonder twyfel dié wat ander mense veroorsaak. Ons is geneig om aan ou wonde te lek en loop so ons nuwe begin mis.

Ongeag die dinge wat ons deurgemaak het en hoe onregverdig dit was en hoe teleurgesteld ons was, ons moet dit agterlaat en laat vaar.

Iemand anders het jou dalk ’n hewige onreg aangedoen. Iets wat jy nie van ’n getroue vriend sou verwag nie.

Of jy het dalk ernstig aanhoudend gebid dat ’n geliefde moet genees word, maar hy of sy het gesterf.

Laat dit aan God oor en gaan aan met jou lewe. Ons lees in Deut. 29:29: “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God.”

Los die dinge daar.

Teleurstellings gaan altyd hand aan hand met terugslae.

Wanneer ons verliese ervaar, verwag niemand van ons om ’n ondeurdringbare blok ys of ontoeganklike eiland te wees nie.

Selfs ons Skepper verwag nie van ons om ons skouers op te haal om sommer net daardie teleurstellings in ons lewe te ignoreer asof seerkry en pyn geen uitwerking op ons het nie.

Wanneer ons verlies of mislukkings ervaar, is dit doodnatuurlik om berouvol en bedroef te voel. God het ons so geskep.

As jy jou werk verloor, gaan jy diep teleurgesteld wees. As jou verhouding of huwelik op die rotse beland, gaan jy die pyn voel. Indien die dood van ’n geliefde ingetree het, gaan jy ’n tydperk van rou en verdriet beleef. Dis normaal en ’n mens is dit te wagte.

As jy nog berouvol is en treur oor ’n teleurstelling wat jy verlede jaar of langer ondervind het, is iets drasties verkeerd! Dan is jy ’n steurnis vir jou eie toekoms.

Jy moet besluit om aan te gaan met jou lewe. Niks gebeur vanself nie. Jy moet opstaan en sê: Ek gee nie om hoe moeilik dit is nie; ek sal nie toelaat dat dié situasie my onderkry nie.

Energie

Ons knaag aan ou wonde, bekommer ons, voel jammer vir onsself en vertroetel ’n ou wrok. En vra aanhoudend: Hoekom moes dit met my gebeur? God is nie lief vir my nie en Hy antwoord nie my gebede nie.

Hoekom het my eie suster my bedrieg? Hoekom het my huwelik in die hof geëindig? Hoekom het my kind selfmoord gepleeg? Waarom loop dinge aanhoudend vir my verkeerd?”

Dié vrae is geldig, maar staak daarmee as jy reeds daaroor nagedink het. Moenie jou energie en tyd mors op dinge wat jy nie kan verander nie.

Dis tyd dat jy aangaan met jou lewe. Leef voluit en vertrou God.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters