Verlede maand
OP Rugby kan nie verdeeldheid bekostig
rugby
Francois de Wet  ~ Verskaf

VIR Oos-Kaapse rugby om regtig eendag sy plek as ’n krag in Suid-Afrikaanse rugby te verdien, sal verdeeldheid rondom ras, egotisme en politiek daadwerklik aangespreek moet word.

Verlede naweek se verkiesingsveldtog van die Oostelike Provinsie-rugbyunie het weer die onenigheid binne dié unie op ’n groot verhoog geplaas.

’n WhatsApp-stemboodskap (onder aangeheg) waarin OP Rugby se president, André Rademan, aan iemand vertel hoe iemand anders hom vertel het dat “kleurlinge nie vertrou kan word nie” het soos ’n veldbrand versprei. Dit het selfs by ander unies en die sport se hoogste gesag, SA Rugby, uitgekom.

Dit was selfs ’n besprekingspunt op SA Rugby se algemene jaarvergadering vroeër dié week. Die liggaam het by monde van ’n woordvoerder geantwoord: “Die aantygings is in die algemene jaarvergadering opgehaal en sal deur die sosiale en etiese komitee hanteer word sodra ’n formele klag gelê word.”

Die lê van so ’n klag kan verreikende gevolge hê – nie net vir Rademan nie, maar ook OP Rugby in die geheel. Daar is reeds bespiegel dat seker unies hul rug op Rademan gekeer het in Dinsdag se vergadering deur nie ten gunste van die unie se rugbyspan se insluiting by die Curriebeker se Premierliga te stem nie.

Dit blyk egter dat Rademan tot dusver die ondersteuning van sy uitvoerende raad geniet. Die persoon wat volgens die stemboodskap aanvanklik gesê het dat “kleurlinge nie vertrou kan word nie”, sal egter na vore moet tree om die omstredenheid in die kiem te smoor.

Gebeur dit nie, kan Rademan se tweede termyn as president ’n onstuimige vier jaar wees. Dit ondanks die feit dat ’n groot meerderheid van klubs hy en sy bestuur se leierskap steun.

Dié bestuur se groot mandaat oor die volgende vier jaar gaan beslis wees om die OP Rugby deel van die groot ses te maak. Hulle het reeds probeer om deur ’n mislukte stemproses toelating tot die Curriebeker se Premierliga te kry. Dit het dalk nou tyd geword vir die bestuur om die politieke kaart van die bakermat van swart rugby weg te sit, moue op te rol, van ego’s te vergeet en van onder af te bou.

Dit beteken die finansies sal beter bestuur moet word terwyl ’n daadwerklike en regverdige struktuur vir klubrugby en skolerugby geskep moet word. Só kan daar verseker word dat die beste spelers vir die unie se verteenwoordigende spanne raakgesien word.

En hoewel SA Rugby hom nie by ’n unie kan inmeng nie, sal dit beslis ’n goeie idee wees as daar ten minste iemand in ’n raadgewende kapasiteit by die unie betrokke kan raak om leiding te verskaf.

  • Francois de Wet is Son se sportredakteur.
  • Stuur jou kommentaar hieroor per e-pos na francois.dewet@son.co.za
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters