4 maande gelede
’n Saluut aan ál ons moeders
Nicolette Fouldien  ~ Foto Verskaf

ONS vier Sondag Moedersdag.

As ek so terugkyk op die afgelope jaar – van Mei 2020 tot nou – kan ek nie help om te wonder of dit dalk die moeilikste jaar in ons as moeders se leeftyd was nie.

Ons is gekonfronteer met ’n nuwe virus wat ons kinders en geliefdes se lewe bedreig het.

Baie van ons moes bekommerd gaan werk terwyl ons kinders sonder toesig by die huis was, want die skole het mos skielik sonder waarskuwing gesluit.

Sommige van ons het ons werk verloor en baie het hul eggenote verloor.

Ek glo nie een moeder is onaangeraak deur die talle krisisse wat hierdie virus teweeggebring het nie.

Maar ek glo ook deur alles is ons sterker gelaat.

Ons kan ook nou praat van ons het kaalvoet oor die spreekwoordelike Drakensberge geloop en survive.

Leisels

Ek kyk vandag met trots na die moeders om my, veral my eie ma, wat nie net haar been verloor het as gevolg van diabetes nie, maar ook gordelroos moes trotseer.

En steeds hou sy ons huis se leisels stewig in haar 70-jarige hande. Hande wat nog elke dag werk en sorg vir ’n inkomste.

Dit is oor ma’s soos sy dat Moedersdag gaan.

Moeders wat ongeag hul omstandighede steeds hul bes doen om te ver­seker hul familie is versorg.

Moeders wat hulself ’n tekort laat ly ter wille van hul kinders.

Ons weet nou meer as ooit tevore wat moederskap eintlik beteken.

Ons weet hoe dit voel as jou kinders se lewe bedreig word.

Ons weet wat dit is om te sorg en te voorsien onder omstandighede buite ons beheer.

Ons het weer geleer bid, want somtyds was dit die enigste ding wat ons teen ’n onsig­bare vyand kon doen. Maar ons het oorwin.

My hart is seer, want ons het in dié tyd ook baie moeders verloor.

Kinders is wees gelaat en baie gaan Sondag blomme op grafte neerlê.

Mag ons harte gedenk­stene wees vir dié moeders wat moedig hul stryd gestry het. Laat ons voortbou op hul legacy.

Laat ons moeders wees ook vir húl kinders.

Volharding

Kom ons onthou die sêding: It take a village to raise a child.

En: My kind is jou kind. Geen kind moet ’n weeskind wees nie.

Vandag salute ek elke moeder in Suid-Afrika.

Dankie vir jul deursettingsvermoë en jul volharding.

Dankie dat julle staande gebly het ongeag wat op jul pad gekom het.

Dankie dat julle onder dié moeilike omstandighede ’n voorbeeld van sterkte en krag vir jul kinders was.

Dankie dat julle hulle gewys het dat ’n ma die hoeksteen en pilare van ’n huis­gesin is.

Ons is supertrots op elkeen van julle.

Mag elke dag vir julle soos ’n Moedersdag wees, want julle verdien dit.

’n Baie geseënde Moedersdag aan elkeen van ons dierbare moeders.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters